Oud-atleet ondersteun SA Olimpiese bod
2010-08-20 13:00
Singapoer – Namibië se viermalige Olimpiese medaljewenner, Frankie Fredericks, het beloof om alles in sy vermoë te doen om die Olimpiese Spele in Afrika ‘n werklikheid te maak.
Die voormalige naelloper is tans in Singapoer om atlete by die Olimpiese Jeugspele te ondersteun en het gesê hy is vasberade om sy deel te doen in Suid-Afrika se bod vir die Olimpiese Spele in 2020.
Fredericks, wat tans die hoof van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) se atletiekkommissie is, het gesê, “dit sal wonderlik wees om ons kultuur, ons kos, en die manier waarop ons dinge in Afrika doen met die res van die wêreld te deel".
Die resies om te bepaal watter land die 2020 Olimpiese Spele gaan aanbied begin volgende jaar in alle erns met Suid-Afrika wat sy naam ook in die hoed gegooi het.
Kaapstad het 'n bod in 1997 gemaak om die eerste Afrika-gasheer van die Olimpiese Spele in 2004 te word, maar die bod is aan Athene, Griekeland toegeken.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op <bold>Twitter</bold> te volg.
- Reuters