Oud-Bok trap in Cape Epic
2010-02-17 14:12
Kaapstad – Joel Stransky, wat die skepskop in 1995 deur die pale gestuur het om die Wêreldbeker-rugbybeker vir die Springbokke te wen, gaan aan vanjaar se Absa Cape Epic-fietstoer wat oor 722 km strek, deelneem.
Stransky het tydens sy rugbyloopbaan 22 toetse vir die Springbokke gespeel en 80 wedstryde vir die Sharks, 55 vir die Westelike Provinsie en 54 vir die Leicester Tigers gespeel.
Dié legendariese losskakel sal saam met Pierre Loubser namens die JAG-stigting, ‘n organisasie wat hulle vir die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse jeug deur middel van sport en opvoeding beywer, ry.
“Toe JAG my genader het om vir hulle te trap as deel van 'n liefdadigheidspan het ek dadelik ingestem," het Stransky gesê.
Stransky glo daarin om die ure in te sit, dus oefen hy ses dae ‘n week en hoewel hy reeds verskeie kere die Cape Argus-fietstoer voltooi het besef die oud-Bok dat die Epic ‘n ander tipe uitdaging is.
Stransky se doelwitte vanjaar sluit in om die Epic te voltooi, ‘n paar rugbywedstryde te kyk en weer te begin swot.
- Sport24