Oscar wen Laureus-toekenning
2012-02-06 22:59
Londen – Suid-Afrika se Oscar Pistorius, die atleet wat as “Blade Runner” bekendstaan, het die 2012 Laureus-toekenning vir Wêreld Sportpersoon van die Jaar met ‘n Gestremdheid gewen.
In 2011 het Pistorius die eerste atleet met ‘n amputasie geword om ‘n nie-gestremde atletiekmedalje te wen, as lid van die Suid-Afrikaanse 4 x 400 aflosspan wat ‘n silwer medalje gewen het in Daegu, Suid-Korea.
“Dit is net ‘n groot eer om benoem te wees, dit maak my regtig nederig om hier te wees,” het Pistorius gesê nadat hy die toekenning ontvang het.
“Aan al die lede van die Laureus-akademie, al julle ouens en ikone waarna baie van ons wat nog kompeteer opkyk, baie dankie.”
Die Laureus Wêreld Sporttoekennings is die grootste toekenningseremonie op die internasionale sportkalender. Die wenners word gekies deur die Laureus Wêreld Sportakademie, wat bestaan uit 47 van die beste sportmans en –vroue van alle tye.
- Volg Nuus24Sport op Twitter