Oscar maak geskiedenis in Italië
2011-07-24 09:00
Johannesburg - “Dit was my perfekte wedloop.”
Só beskryf Oscar Pistorius sy wedloop Dinsdagaand in Lignano, Italië, waarin hy die eerste gestremde atleet in die geskiedenis geword het wat vir sowel die Wêreldkampioenskap in atletiek as die Olimpiese Spele gekwalifiseer het.
Suid-Afrika se 24-jarige Paralimpiese held het die 400 m op ’n internasionale byeenkoms in 45.07 sekondes gewen. Daarmee het hy nie net sy eie vorige persoonlike beste (45.61 sekondes in Maart in Pretoria) aan flarde gehardloop nie, maar ook die A-kwalifiserende vereiste van 45.25 sekondes vir die Wêreldkampioenskap oor ’n maand in Daegu, Suid-Korea, lag-lag verbeter.
Vóór Dinsdagaand was hy vanjaar in Europa en die VSA op uitnodiging uiters mededingend teen die wêreld se beste nie-gestremde atlete. Dit volg nadat hy in April in Durban die gunsteling vir sy eerste Suid-Afrikaanse titel teen nie-gestremdes was, maar ’n “af dag” beleef het en nie eens die eindronde kon haal nie.
In ’n eksklusiewe onderhoud met Rapport sê Oscar uit Italië: “Ná alles wat met my gebeur het – soos my uitgerekte stryd met die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) om op meriete en sonder vooroordele in wedlope teen nie-gestremdes te kan hardloop én my bootongeluk in 2009 toe ek verskeie beentjies in my gesig en my ribbes gebreek het – het ek vanjaar die eerste keer weer 77 kg geweeg; dieselfde gewig as toe ek 17 was.
“Toe ek in my eerste wedloop in Suid-Afrika daai 45.61 behaal – my eerste 400?m onder 46 sekondes – het ek dadelik besef dat 2011 vir my ’n groot jaar gaan wees, maar ek het óók geweet om daardie kwalifiserende vereiste van 45.25 te behaal gaan ontsettende toewyding en vasbyt van my verg.
“Toe ek Dinsdagaand oor die wenstreep gaan, het my wentyd aanvanklik 45.04 sekondes op die elektroniese bord gewys. Dis later na 45.07 verander. Sommige dae het atlete net daardie wedloop waarin alles reg verloop. Dié was een van daai dae. Ek het nog nooit voorheen die perfekte wedloop volgens my eie standaarde gehardloop voor dié een nie.
“Toe ek die volgende oggend by ontbyt met my groot vriend LJ van Zyl (Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 400 m-hekkies) gesels, kon ek my vertoning steeds nie glo nie. Toe hy vir my sê hý het ook sy eie persoonlike beste in die 400 m vanjaar met ’n hele sekonde verbeter, het my ongeloof begin wyk.”
Tussen die talle mylpale wat Oscar met sy droom-wedloop in Italië verbygesteek het, tel onder meer: dat hy nou vanjaar naas Van Zyl se 44.86 sekondes Suid-Afrika se vinnigste 400?m-man is; dat net ses Suid-Afrikaners al ooit vinniger tye as hy kon opstel (die SA rekord van 44.59 staan al 11 jaar); en dat hy nou no. 15 op 2011 se wêreldlys is (die vinnigste vanjaar is 44.65 sekondes).
Hy beskryf sy silwermedalje by 2007 se SA senior kampioenskap as een van sy vorige hoogtepunte. (“Ironies genoeg was dit my eerste en enigste SA medalje tot dusver teen nie-gestremdes.”) Sy geveg met die IAAF wat hy uiteindelik gewen het, was nié sy grootste tot nog toe nie: “My grootste uitdaging voor vanjaar was in 2008. Ek wou bitter graag na die Olimpiese Spele in Beijing gaan, maar ek kon (toe) met ’n persoonlike beste van net 46.23 nie die vereiste 45.95 behaal nie. Ek was bitter teleurgesteld, maar ek het geweet ek het my beste probeer.”
En vorentoe? “Wanneer ek na die komende Wêreldkampioenskap en volgende jaar se Olimpiese en Paralimpiese Spele in Londen kyk, wéét ek baie opofferings en vasbyt lê nog vir my voor. Maar ek omhels dit.
“Ek sal altyd deur my ondersteuners geïnspireer word en gefokus bly. En ja, ek sal altyd ook kritici hê, maar my werk is om te hardloop en nié om hulle stil te maak nie.”
Oscar hardloop op 30 Julie in Boedapest voordat hy einde Augustus in Daegu sy gróót droom vervul.
- Sport24
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter