Oscar kry bloedneus
2011-04-10 07:07
Khotso Mokoena se poging om vroeg reeds vir atletiek se wêreldkampioenskappe in Suid-Korea te kwalifiseer, is gister hier by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deur die wind weggewaai.
En Oscar Pistorius, wat as gunsteling in die 400 weggespring het, is in die halfeindronde uitgeskakel en kon nie vir vandag se eindronde kwalifiseer nie.
En die 38-jarige Chris Harmse het ’n ongeëwenaarde 16de agtereenvolgende keer die SA titel in die hamergooi gewen.
Dít was gister hier die verhaal van die eerste dag van die SA kampioenskappe.
Mokoena het met sy laaste sprong die maatband tot ’n yslike 8.29 laat rek – 9cm verder as die vereiste vir Suid-Korea.
Ongelukkig vir hom het die wind van agteraf te sterk gewaai (3.3 m/s).
Hy is egter nie teleurgesteld nie: “Die seisoen is nog lank. Onthou, die wêreldkampioenskappe vind eers einde Augustus plaas.
“Ek wéét nou ek is reg om weer groot afstande te spring. Ek het vandag (gister) twee spronge gehad wat regtig ver was – ongelukkig het ek net-net oorgetrap.”
Mokoena se beste wettige sprong gister was 8.13.
Die junior wêreldkampioen Luvo Manyonga was tweede (7.94) en Rushwal Samaai derde (7.80).
Pistorius het hier met ’n onlangse uiters belowende persoonlike beste tyd van 45.61 in die 400 aangetree – verreweg die vinnigste van ál die deelnemers.
Hy was egter in die halfeindronde sewende in ’n tyd van 47.70.
Harmse, die “ouman” van SA atletiek, het sy 16de agtereenvolgende goue medalje met ’n gooi van 71.70 gewen.
Agterna sê hy: “Dit raak al hoe lekkerder hoe ouer ek raak. Daar is tye wanneer my liggaam my maar goed opkeil, maar ek kan daarmee saamleef want ek geniet my atletiek nou regtig. In die verlede het ek te veel druk op myself geplaas. Dit beteken jy raak amper soos ’n masjien. Jy gooi net om te gooi.
“In 2005 het ek in die einste Durban 80.63 gegooi. Ek is nou nog spyt dat ek daardie gooi van my nie meer geniet het nie.”
Simon Magakwe het ’n groot opskudding veroorsaak toe hy sy halfeindronde in die 100 in ’n haastige 10.18 gewen het. In SA atletiek kon nog net nege atlete vinniger tye opstel.
Ten spyte dat hy effense las van ’n dyspierbesering het, is Magakwe vol vertroue dat hy vandag nóg vinniger gaan hardloop: “Ek het my aan die 200 onttrek omdat ek geen onnodige kanse wil waag nie. Die 100 is wat vir my saak maak. Wie weet, dalk hardloop ek môre (vandag) vinniger as 10.10.”
René Kalmer het die 5 000 verspot maklik in 15:42.21 gewen.
Kalmer se wentyd is die tweede vinnigste tyd die afgelope nege jaar deur ’n SA vroue-atleet.
Annemie Smith het haar goue tweekuns voltooi, toe sy die hamergooi vir vroue met ’n 55.85 gewen het. Sy het verlede week in Germiston ook die SA junior titel verower.
Janice Josephs het die verspring vir vroue met ’n sprong van 6.38 gewen. Samantha Pretorius, die SA junior kampioen, was tweede (6.19) en Celeste Rietels derde (6.17).
Cheyne Rahme was in die paalspring baas met ’n beskeie 5.10 (sy beste is 5.50), terwyl Roelie Potgieter die gewigstoot met ’n 19.42 gewen het.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport