Orkaan Irene stuit nie VSA Ope
2011-08-30 08:00
New York. – Orkaan Irene het min skade aangerig aan die tenniskompleks hier by Flushing Meadows waar die Amerikaanse Ope-tennistoernooi Maandag in helder sonskyn begin het.
Dié orkaan, wat New York in die naweek in sy greep gehad het en waaroor die organiseerders van die toernooi asem opgehou het, het gelukkig nie met “geweld” ingeloer by Flushing Meadows nie.
Spel het wel Maandagmiddag twee uur later, om 13:00 (19:00 SA tyd), op die Arthur Ashe-baan begin, wat ook die hoofbaan is.
Weens vloedwaters in die suidelike en oostelike dele van Manhattan weens die orkaan is openbare vervoer daar kwaai geraak. Die vervoerstelsel het vir alle praktiese doeleindes tot stilstand gekom en dit was onseker wanneer trein- en busdienste hervat sou word.
Die Kroaat Marin Cilic, (27ste gekeur), het Suid-Afrikaners ’n voorsmakie gegee van dit wat aanstaande maand in Potchefstroom in die Davisbeker-kragmeting op hulle wag.
Cilic het die jong Amerikaner Ryan Harris (19), wat as die mees talentvolle speler in die VSA sedert Andy Roddick in 2001 beskou word, met 6-2, 7-5, 7-6 uitgeskakel.
Cilic se eerste afslaan was 45% in die kol.
Hy het net een kishou behaal en sy vinnigste afslaan was 208 km/h.
Hy het 67% van sy punte op sy eerste afslaan gewen.
Tomas Berdych van Tsjeggië, wat 9de gekeur is en as een van die buiteperde hier beskou word, het min moeite ondervind in sy kragmeting met die ongekeurde Romain Jouan van Frankryk. Berdych het met 6-2, 7-6, 6-1 gewen in ’n wedstryd wat net ’n rapsie minder as twee uur geduur het.
In ander kragmetings het Janko Tipsarevic van Serwië, wat 20ste gekeur is, Augustin Genisse van Frankryk met 6-2, 7-5, 6-0 geklop.
Alexandr Dogopolov van die Oekraïne (22ste gekeur) het sy wedstryd teen Frederico Gil van Portugal met 6-4, 6-2, 7-5 gewen.
In die afdeling vir vroue is die Wimbledon-kampioen Petra Kvitova deur Alexandra Dulgheru met 7-6, 6-3 uitgeskakel.
Die vierde gekeurde Maria Sharapova het klippe gekou in die eerste stel teen die Brit Heather Watson, maar het eindelik met 3-6, 7-5, 6-3 geseëvier.
Venus Williams en Roger Federer het albei gemaklik na die volgende ronde deurgedring.
Suid-Afrika se voorste manspeler, Kevin Anderson, kom in die eerste ronde teen Japan se Go Souda te staan.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24