Organiseerders mor oor Semenya se slakkepas
2010-09-02 08:35
Rovereto, Spanje – Die organiseerders van eergisteraand se Palio della Quercia-atletiekbyeenkoms wil nie byt aan Caster Semenya se verskonings hoekom sy só swak gevaar het nie.
Semenya, wat Vrydagaand in Brussel derde in die 800 m-wedloop geëindig het, was eergisteraand negende in 2 minute 07.16 sekondes. Sy het byna sewe sekondes agter die wenner, Elisa Cusma Piccione van Italië, geëindig.
Gister het haar Finse bestuurder, Jukka Harkonen, gesê haar vertoning kan toegeskryf word aan ooreising, dat sy geen krag gehad het tydens opwarming nie en dat sy die hele nag gehoes het.
Maar een van die organiseerders, Luigi D’Onofrio, is nie tevrede met dié verduideliking nie. Hy het gesê dit is steeds “onverstaanbaar” dat Semenya só stadig gehardloop het.
“Daar is geen sekerheid dat sy dit opsetlik gedoen het nie, hoekom sou sy? Sy het haarself en die byeenkoms kwaad aangedoen. Dié verskonings is steeds nie goed genoeg vir my nie,” het D’Onofrio gesê.
Semenya het wel haar vertoongeld ontvang.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24