Ope-sege voltooi Clarke-sprokie
2011-07-18 09:49
Johannesburg – Toe die Noord-Ierse kombinasie van Rory McIlroy en Darren Clarke Woensdag in ’n oefenrondte voor die Britse Ope met die Suid-Afrikaanse major-wenners Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel afgereken het, is dit die wêreld oor verkondig as ’n teken dat McIlroy die man was om te klop in die derde major-toernooi van die jaar.
Vyf dae later was dit duidelik dat Clarke eintlik daardie dag die held was – net soos wat hy Sondag weer was toe hy ten spyte van sy ouderdom, stormagtige toestande en ’n vasbeslote Amerikaanse aanslag afgeweer het om as die nuwe Britse Ope-kampioen gekroon te word. Die 42-jarige Noord-Ier het sy land se derde major-wenner in ses grotes geword toe hy die Ope gister op Royal St George’s in Sandwich met drie houe gewen het.
Hy het die toernooi afgesluit met ’n rondte van 69, een hou minder as baansyfer, en die Claret Jug gelig ondanks brouhoue op albei die laaste putjies. Sy bof- en ysterspel was die hele naweek lank uit die boonste rakke en sy setwerk eweneens indrukwekkend.
Die Amerikaner Dustin Johnson, wie se aanslag deur ’n driedubbele brouhou op die 14de putjie beëindig is, was tweede saam met Phil Mickelson.Mickelson het gevaarlik gelyk vir 10 putjies, maar die titel weggegooi met vier brouhoue oor sy volgende ses putjies.Clarke was die perfekte kampioen.
Hy was die enigste speler wat elke dag beter as syfer gevaar het en nooit gelyk het of die wispelturige weer in Kent hom van stryk kon bring nie. En sy omhelsing van die Claret Jug was die laaste aksie in ’n sprokiesverhaal – vyf jaar nadat hy sy vrou weens kanker verloor het en vir drie jaar niks op die gholfbaan kon regkry nie, het hy eiehandig ’n nuwe hoofstuk in sy lewe geskryf.
En 14 jaar nadat hy ’n 54 putjie-voorsprong op Royal Troon deur sy vingers laat glip het, het hy in styl daarvoor vergoed.“Dis ongelooflik,” het Clarke aan die BBC gesê. “Ek was vandag so-so, maar ek het gedoen wat ek moes.
“Ek het probeer om geen dom foute te begaan nie en dit was op die ou einde genoeg om te wen.”
Die Pretorianer George Coetzee het die beste van die Suid-Afrikaners geëindig ná ’n laaste rondte van 74.Coetzee (24), wat derde was in twee van sy laaste vier toernooie, het gister nege houe agter Clarke geëindig, in die 15de plek.
Die Amerikaanse Meesters-kampioen, Charl Schwartzel, was 16de ná ’n laaste rondte van 72 houe.Die verdedigende kampioen, Louis Oosthuizen, het ’n dag op die gholfbaan beleef wat hy liefs sal wil vergeet. Sy laaste rondte van 77 het nie ’n enkele voëltjie ingesluit nie en het hom 18 houe agter Clarke laat eindig.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24