Oorsese jaers (wéér) te goed
2011-02-23 07:48
Port Elizabeth - Yohann Gene (Europcar) het Dinsdag die Europese jaers se oorheersing van Cell C se Toer van Suid-Afrika voortgesit toe hy die derde skof gewen het.
Die skof oor 171 km wat in en om Port Elizabeth plaasgevind het, het op ’n naelrit tussen vier ryers afgestuur.
Gene het presies op die regte oomblik versnel om te verseker hy klop Johann Rabie (Bonitas) met ’n paar sentimeter.
Gregory Habeaux (Veranda’s Willems-Accent) het derde geëindig.
Die Fransman se wentyd vir die skof oor 171 km was 4 uur 5 minute 27 sekondes.
Ná Dinsdag sal die internasionale jaers beslis weet waarom daar na Port Elizabeth as die “winderige stad” verwys word.
’n Sterk Suidooster het hul lewe op die fietse behoorlik hel gemaak. In ’n stadium, met die wind van agter, het die jaers teen 71 km/h voortgesnel. Dan was daar kere dat ’n dwarswind byna die jaers se fietse onder hulle uitgewaai het. Aan die einde is die jaers deur ’n stormsterk wind getoets.
Gene het gespot en gesê dat hy geen ander keuse gehad het as om dié skof te wen nie.
“Toe ons aan die ontbyttafel gesit het, het my spanmaats vir my gesê hulle het besluit ek moet wen. Daar was geen manier waarop ek hulle kon teleurstel nie. Miskien was die wind my grootste bondgenoot.”
Engeland se Kristian House (Rapha Condor) is steeds die algehele voorloper. Hy het ’n voorsprong van 2 minute en 22 sekondes op ’n groep van 10 jaers, wat die Suid-Afrikaners Jacques Janse van Rensburg (Burgos2016), David George (360Life), Daryl Impey en Reinardt Janse van Rensburg (albei MTN Qhubeka) en Rabie insluit.
House is een van die min jaers wat nie oor die wind gekla het nie: “Ek is gewoond daaraan om in die wind deel te neem, want ek het in België geleer fietsry.”
- Impey is die voorloper in die bobaas van die berge-afdeling, Reinardt Janse van Rensburg is die voorloper in die afdeling vir beste jong jaers en Jacques Janse van Rensburg is die beste jaer van Afrika.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24