Ons manjifieke sewe
2012-01-01 08:14
Daar was trane oor die Springbokke; trane oor ons Proteas se voortdurende onvermoë op die wêreldverhoog – én nóg trane (saam met ’n stewige versameling rooi gesigte) oor die manier waarop Bafana Bafana se droom van ’n plek in aanstaande jaar se Afrika-nasiesbeker gesterf het.
Ja, 2011 was nie ’n goeie jaar vir Suid-Afrika se “groot” sporte nie – maar dit was twaalf maande waarop ’n paar van die land se voorste individuele sportlui met heelwat genoegdoening kan terugkyk.
Vir Charl Schwartzel, Oscar Pistorius, Chad le Clos, Hank McGregor, Erin Burger, LJ van Zyl en Pietie Coetzee was 2011 ’n grote – ’n jaar waarin drome bewaarheid is, grense oorgesteek is en kritiek oorkom is.
Schwartzel het vir die jaar se grootste sport-hoogtepunt gesorg toe hy in April die Amerikaanse Meesterstoernooi gewen het, met voëltjies by ál vier die laaste putjies. Dit was ’n triomf wat sy landgenote in die middernagtelike ure van ’n Maandagoggend op hul sofas laat dans het – en die eerste gróót oomblik in ’n jaar wat hom as toekomstige grote in wêreldgholf bevestig het.
Pistorius se droom van deelname aan die Olimpiese Spele is vir jare as onbekombaar beskryf. Nou is dit ’n wesenlike waarskynlikheid, ná ’n jaar waarin hy vir die atletiek-wêreldkampioenskappe vir “gewone” atlete gekwalifiseer het; daar die halfeindronde in die 400 gehaal het – en deel was van die viertal wat ’n nuwe SA rekord in die 4x400-aflos opgestel het.
Le Clos se opmars het reeds in 2010 begin, toe hy goue medaljes by die Junior Olimpiese Spele, die Statebondspele én kortbad-wêreldkampioenskappe gewen het. Vanjaar het hy meer as R1.1 miljoen in sy sak gesteek en 35 medaljes in sewe byeenkomste gewen, om as die algehele beste swemmer van Fina se kortbad-Wêreldbekerreeks aangewys te word.
McGregor is in Oktober as wêreldkampioen in die K1-marathon gekroon, ná hy die kampioenskapsren oor 35 km oorheers het en talle voormalige wêreldkampioene agterweë gelaat het. Dit was die kersie op die koek van ’n wonderlike jaar waarin hy elke enkel- en dubbeltitel wat hy nagejaag het, gewen het.
Burger is al vir baie jare die beste netbalspeler in Suid-Afrika, met haar ratsheid, spoed en visie wat haar die toonaangewende middelveldspeler in die land maak. In Julie is dié eienskappe ook deur die wêreld erken, toe sy as die beste speler van die Wêreldbeker-toernooi – en dus vir alle praktiese doeleindes die beste in die wêreld – aangewys is.
Van Zyl het binne een maand die elf jaar-oue Suid-Afrikaanse rekord in die 400-hekkies verbeter (tot 47.66) én byna ’n hele sekonde van sy persoonlike beste tyd in die 400 gesnoei met ’n (toe-) wêreldbeste van 44.86. LJ sluit die jaar af in die nommer 1-posisie op die wêreldlys in die 400-hekkies.
In Augustus het die Pretorianer brons in die hekkies én silwer in die 4x400-aflos by die wêreldkampioenskappe gewen. Dit was sy eerste medalje by dié byeenkoms, en hy het gesê dit “voel soos goud”.
Coetzee het op die hokkieveld twéé groot mylpale verbygesteek: sy is nou die wêreldrekordhouer vir doele én is in 2011 se Wêreldspan ingesluit.
– Sport24
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter