Onmin oor junior SA atletiekspan
2010-07-02 10:10
Sport24
Pretoria - Atletiek Suid-Afrika (ASA) kan hom in ’n hofgeding bevind nadat hy Donderdag die Suid-Afrikaanse span bekend gemaak het wat van 20 Julie in Montcon, Kanada, aan die Wêreldbyeenkoms vir Juniors deelneem.
Daar heers groot ontevredenheid by verskeie ouers, afrigters en sekere van ASA se raadslede oor die wyse waarop daar te werk gegaan is om dié span te kies.
Derick van Rensburg het, net nadat hy gehoor het sy seun is nie in die span nie, regsadvies begin inwin.
Sy seun Rynardt is een van Suid-Afrika se voorste junior 800-atlete en het op die Suid-Afrikaanse Junior-byeenkoms maklik met ’n tyd van 1:50.22 gekwalifiseer.
Dinsdag het hy op advies van ’n ASA-werknemer ’n spesiale tydtoets oor 600 m in Bloemfontein afgelê om weer te bewys hy is goed genoeg om teen die wêreld se bestes te hardloop.
Sy tyd oor die 600 m was 1 minuut 19 sekondes, wat goed genoeg was om sy plek in die span te verseker.
Atlete het volgens Richard Stander van ASA tot Woensdagaand 12:00 gehad om te kwalifiseer.
Rikenette Steenkamp, wat vanjaar die Suid-Afrikaanse senior, junior en Skole-kampioen is, is ook nie in die span na Kanada nie.
Sy het wel las van ’n voetbesering gehad wat haar verhoed het om in Junie deel te neem, maar sy was bereid om voor die Wêreldbyeenkoms op haar eie koste in die buiteland deel te neem om te bewys die besering is iets van die verlede.
Atlete moes in Junie weer kwalifiseer om te bewys dat daar niks met hul fiksheidspeil skort nie.
Wat ouers en afrigters omkrap, is dat van die Junie-byeenkomste in hul woorde “chaoties” was waar daar van die atlete verwag was om vir Kanada te probeer kwalifiseer.
Die span is:
Seuns: Waide Jooste (100 en 200), Gideon Trotter (100), Wade van Niekerk (200), Sean de Klerk (200), Shaun de Jager (400), Jacques de Swardt (400), Ratlale Mokone (1 500), Kobus Moolman (110-h), Werner Pretorius (110-h), Le Roux Hamman (400-h), Pieter Marx (400-h), Cheyne Rahme (PS), Luvo Manyionga (VS), Stefan Brits (VS), Dewald van Heerden (DG), Rocco van Rooyen (SG), Dean Goosen (SG), Gert Swanepoel (tienkamp).
Meisies: Justine Palframan (200), Anuschka Nice (800), Jean-Marie Senekal (400-h), Annemie Smith (HG), Tazmin Britz (SG).
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter
te volg.