Ongelukke oorheers 2de skof van Aus-fietstoer
2011-01-19 14:47
Adelaide - Die organiseerder van die Tour Down Under-fietstoer in Australië, Mike Turtur, het ontken dat die ongelukke wat aan die einde van Woensdag se tweede skof plaasgevind het, weens swak beplanning van die roete was.
Die Tour de France-missiel Mark Cavendish, was onder die fietsryers wat by ten minste drie ongelukke in die laate vyf kilometer van die 146 km-skof vanaf Tailem Bend na Mannum betrokke was.
Die jong Australiër Bernard Sulzberger moes hom weens 'n gebreekte sleutelbeen onttrek. En daar heers ook twyfel oor sy landgenoot, Chris Sutton (Team Sky), se verdere deelname nadat hy sy knie beseer het.
Cavendish het snye bo sy linkeroog en skaafplekke oral op sy lyf. Toe hy geval het, het 'n ander fietsryer, vermoedelik sy spanmaat Matthew Gross, teen die agterkant van Cavendish se kop vasgejaag.
Volgens 'n woordvoerder vir Cavendish se span, HTC-Highroad, is sy beserings van so aard dat hy Donderdag sal kan voortgaan met die fietstoer.
Sommige ryers het gekla oor gruis op die roete en dat die eindpunt te tegnies was, maar Turtur het gesê dit is alles deel van fietsry.
"Almal hardloop rond en blameer die gruis. Maar dit was nie die toestand van die pad wat die ongelukke veroorsaak het nie," het Turtur gesê.
"Die laaste stuk na die eindstreep is altyd die plek waar die meeste ongelukke gebeur. Ek wil nie sien hoe ouens val nie, maar hierdie tipe goed is alles deel van die sport," het hy bygevoeg.
Die Australiese veteraan Robbie McEwen (RadioShack) is die algehele voorloper nadat hy Woensdag tweede geeïndig het.
Kliek hier vir die volledige resultate.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24