Ongekeurde skok Andy in Londen
2011-06-25 13:15
Londen. – Feliciano Lopez, ’n voormalige Suid-Afrikaanse Ope-kampioen, het Vrydag vir die grootste verrassing van die dag hier in die Wimbledon-tennistoernooi gesorg toe hy Andy Roddick uitgeskakel het.
Die Spanjaard, wat in 2009 die SA Ope by Montecasino gewen het, was met 7-6, 7-6, 6-4 baas.
Dit was die ongekeurde Lopez se eerste sege oor Roddick (8ste gekeur).
Die Amerikaner was in hul vorige sewe ontmoetings baas.
Dié nederlaag beteken dat Roddick in drie van sy laaste vier toernooie hier nie verder as die vierde ronde kon vorder nie.
Roddick het al drie keer in die Wimbledon-eindstryd gespeel.
Die laaste keer was die epiese eindstryd in 2009 teen Roger Federer, wat hy met 14-16 in die vyfde stel verloor het.
“Dit was ’n belangrike sege. Ek was nogal op my senuwees aan die einde,” het die Spanjaard gesê.
Hy het al twee keer die kwarteindronde in dié grasbaan- Grand Slam-toernooi gehaal.
Bulgarye se Tsvetana Pironkova het verlede jaar se finalis en tweede gekeurde, Vera Zvonareva, met 6-2, 6-3 uitgeskakel.
Pironkova het met ’n kliniese vertoning waarin sy net vyf ongedwonge foute begaan het, wraak geneem vir haar nederlaag teen die Rus in verlede jaar se halfeindronde.
Die 23-jarige Pironkova het net ’n uur en 17 minute nodig gehad vir haar sege.
Sy kom nou teen ’n voormalige kampioen, Venus Williams, te staan.
Maria Sharapova het hard baklei en geskree om die Britse promotorskeuse Laura Robson met 7-6, 6-3 om ’n plek in die derde ronde te klop.
Die 2004-kampioen was in die eerste stel met 1-4 agter en in die valbylstryd 2-4 agter voordat sy die Britse partytjie kon bederf.
“Ek het nie vandag my beste tennis gespeel nie.
“Ek het baie foute begaan,” het Sharapova gesê.
Dié Rus mik na haar vierde Grand Slam-titel.
Die voorste speler ter wêreld, Caroline Wozniacki, het gister die vuur gestook wat deur Serena Williams begin is.
Wozniacki moes op Baan Twee speel terwyl spelers laer op die wêreldranglys op die hoofbaan in aksie was.
Dié Deen het haar tweederonde-wedstryd teen Frankryk se Virginie Razzano met 6-1, 6-3 gewen.
Serena Williams het eergister gekla oor die feit dat mans skynbaar voorkeurbehandeling by die All England Club kry. “Hopelik sal my volgende wedstryd op een van die hoofbane wees,” het Wozniacki gesê.
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg
- Sapa - AFP