Ondersoek na Woods-kinders klag
2010-01-12 13:21
Florida – ‘n Wetgewer in Florida het versoek dat ‘n ondersoek geloods moet word om uit te vind wie ‘n noodlyn gekontak en beweer het dat Tiger Woods se kinders mishandel word.
Die anonieme aanklagte van verlede maand is deur amptenare in Florida verwerp, maar senator Ronda Storms wil hê dat amptenare, indien moontlik, die persoon moet aankla.
‘n Woordvoerder vir die departement van kinders en families het Maandag gesê dat ‘n vals klag moeilik is om te bewys, behalwe as die persoon skuld erken, maar dit kan lei tot burgerlike of kriminele boetes.
“Misleidende klagtes is ‘n baie ernstige oortreding en neem kosbare tyd weg van kwesbare burgers wat wel beskerming nodig het,” het woordvoerder Joe Follick gesê.
“Dit is ‘n kriminele oortreding en ‘n frustrasie vir die ondersoekbeampte, asook vir gesonde families.”
- Sapa