Ondersoek ná Sanders glo by hospitaal weggewys is
2012-09-25 22:46
Johannesburg – Bewerings dat die voormalige bokskampioen Corrie Sanders by die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria weggewys is nadat hy geskiet is, word ondersoek, het ‘n beampte van die gesondheidsdepartement Dinsdag gesê.
“Kalafong en die Dr George Mukhari Hospitale is die hospitale waarheen pasiënte van die Noordwes-provinsie verwys word weens hul nabyheid,” het Simon Zwane, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid,gesê.
“Nietemin is daar geen beleid wat sê pasiënte wat in ‘n noodtoestand verkeer moet weggewys word nie.”
Die 46-jarige Sanders was Saterdag by die Thatch Haven Country Lodge in Brits om sy kleinneef se 21ste verjaardag te vier toe gewapende mans opgedaag en wild begin skiet het.
Sanders, wat in die hand en maag geskiet is, is Sondag in die Kalafong-hospitaal dood.
Die Demokratiese Alliansie voer aan dat die Sanders-familie gesê het hy is behandeling by die Steve Biko Hospitaal geweier.
“Sy lewe kon moontlik gered gewees het as hy by die spesialis-fasiliteite van die Steve Biko Hospitaal behandel was, eerder as by Kalafong, wat ‘n swak reputasie het,” het Jack Bloom, DA-leier in Gauteng, in ‘n verklaring gesê.
Zwane sê die departement glo Sanders het die gepaste behandeling by die Kalafong Hospitaal gekry.
Die DA vra dat die saak ondersoek word.
Bloom sê bronne het aan hom gesê dat ambulanse van die Noordwes gereeld by die hospitaal weggewys word.
– Volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA