Olivier jag goud in 800
2011-04-09 10:27
Pretoria - André Olivier, een van die land se belowendste 800 meter-atlete, neem Saterdag die eerste keer in twee jaar weer aan ’n Suid-Afrikaanse Atletiekbyeenkoms deel.
En die kans is goed dat hy sy eerste senior titel in Durban kan verower.
Mbulaeni Mulaudzi, die wêreldkampioen in die 800 m, het steeds las van beserings en sal volgens sy afrigter, Hezekiel Sepeng, waarskynlik eers in Junie weer begin deelneem.
In 2008 en 2009 het Olivier tweede ná Mulaudzi op die Suid-Afrikaanse byeenkoms vir seniors geëindig en die 800 op die Suid-Afrikaanse Studentebyeenkoms gewen. Hy was ook die Suid-Afrikaanse junior kampioen in 2008.
Hy het reeds as 19-jarige op Stellenbosch die 800 in 1:45.41 afgelê. Ongelukkig is hy ’n paar maande ná dié haastige wedloop beseer.
Jean Verster, sy afrigter, het wyslik besluit dat Olivier glad nie mag hardloop voordat hy nie heeltemal herstel het nie. Dit het daartoe gelei dat Olivier verlede jaar glad nie aan wedlope deelgeneem het nie.
Verster sê al wat vir hulle saak maak, is om te verseker dat Olivier op sy beste is vir aanstaande jaar se Olimpiese Spele in Londen.
Olivier, wat vanjaar nog net aan ligabyeenkomste deelgeneem het, is nog nie geklop vandat hy sy terugkeer gemaak het nie. Verster wou hom nie veel oor ’n moontlike wentyd uitlaat nie, veral omdat geen atleet tot dusver vanjaar ’n werklike vinnige tyd gehardloop het nie. Hy meen egter ’n wentyd van 1:46.00 is nie onmoontlik nie.
Samson Ngoepe, Folavio Sehohle en Windy Jonas is die ander atlete om dop te hou in die 800. Die eindronde vind môre plaas.
- Juan van Deventer en Peter van der Westhuizen se tweestryd in die 1 500 m kan dalk daartoe lei dat Johan Landsman se SA rekord van 3:33.56 Saterdag in die slag bly.
Van Deventer het iets om te bewys. Hy het verlede jaar dié wedloop as ’t ware in die sakkie gehad, maar om een of ander onverklaarbare rede begin hy toe ál stadiger draf. Dit het Stephen Mokoka in staat gestel om hom ’n paar meter van die eindstreep af verby te steek.
Volgens Van Deventer het hy sy les geleer.
- Kan LJ van Zyl ’n derde keer ’n tyd van wêreldgehalte in slegs sy derde wedloop vanjaar opstel? Sy wentyd in die 400-hekkies van 47.66 sekondes is steeds die vinnigste ter wêreld vanjaar, terwyl sy wentyd van 44.86 in die 400 m die derde vinnigste is.
Van Zyl het egter maar min geluk op nasionale byeenkomste. Hy het in 2008 laas die 400-hekkiestitel gewen. Hy neem nie aan die 400 m deel nie.
- Robert Oosthuizen, wat tot dusver vanjaar met die derde beste afstand (83.82 m) ter wêreld in die spiesgooi spog, behoort vanmiddag vir ’n hoogtepunt te sorg.
- Samantha Pretorius kan Saterdag haar tweede titel in die verspring wen. Die 6.44 m waarmee sy die junior titel gewen het, is tot dusver die beste vanjaar deur ’n plaaslike atleet.
- Charlene Potgieter, wat vanjaar reeds 13.15 m en 13.39 m ver gespring het, belowe dat sy môre Charmaine Barnard se SA driesprong-rekord van 13.46 gaan verbeter.
- Carina Horn en Cindy Stewart se tweestryd Saterdag in die 200 m kan ’n hoogtepunt wees.
Stewart het verlede jaar gewen en Horn was tweede. Horn het intussen baie verbeter en sê sy hardloop nie meer om tweede te eindig nie.