Oliveira ontsteld oor Pistorius se uitlatings
2012-09-03 22:52
Londen – Die Brasiliaan Alan Oliveira, goue medaljewenner in die mans 200 m-finaal, was ontsteld om Oscar Pistorius se uitlatings oor die lengte van sy prostetiese lemme te hoor, maar wou nie in 'n argument betrokke raak nie.
Pistorius, wat tweede geëindig het, het gekla oor die lengte van sy teenstander se prostetiese lemme, wat hy beweer is te lank.
Oliveira was sowat agt meter agter Pistorius toe hy hom in die pylvak ingehaal en op die eindstreep geklop het.
"Dit gaan nie net oor die prostetiese lemme nie, daar is oefening agter my prestasie," het Oliveira gesê.
"Ek raak ontsteld om so iets te hoor."
Pistorius het onmiddellik na die wedloop sy kommer uitgespreek oor die lengte van die prostetiese lemme wat deur Oliveira en die Amerikaanse atleet Blake Leeper, wat die brons medalje gewen het, gebruik word.
"Hy is nie 'n swak verloorder nie. Pistorius is 'n wonderlike atleet," het Oliveira gesê.
"Ek is net hartseer oor die onderhoud waar hy gesê het my lemme is te lank."
Oliveira het gesê hy is teleurgesteld omdat hy nog altyd die Suid-Afrikaner bewonder het.
Pistorius het vroeg Maandag in 'n verklaring om verskoning gevra vir sy uitlatings.
"Ek wil nooit enige iets wegneem van 'n ander atleet se oomblik van glorie nie en wil om verskoning vra vir die tydsberekening van my kommentaar ná gister [Sondag] se wedloop," het Pistorius Maandag in 'n uitgereikte verklaring gesê.
"Ek glo steeds daar is 'n kwessie en verwelkom die geleentheid om met die IPK daaroor te praat, maar ek aanvaar dat dit verkeerd was om my kommer onmiddelik na afloop van die wedloop uit te spreek."
"Dit was Alan se oomblik en ek wil graag op rekord sê dat ek hom respekteer."
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA