Olimpiese legende vol lof vir SA se Oscar
2012-02-01 09:07
Johannesburg. – Sebastian Coe, 'n voormalige wêreldrekordhouer in die middelafstande, sê Suid-Afrika se Paralimpiese ster Oscar Pistorius het 'n beduidende impak op die internasionale sporttoneel gemaak.
Coe, wat ook die voorsitter is van die reëlingskomitee vir die Olimpiese Spele in Londen, het aan die Laureus-sportstigting gesê hy het onlangs tot die besef gekom watter bydrae Pistorius tot sport gelewer het.
"Oscar Pistoius is 'n besonderse karakter," het Coe in 'n onderhoud gesê.
"Ek het onlangs eers besef watter impak hy op Olimpiese en Paralimpiese sport gemaak het toe ek hom op Trafalgarplein gesien het.
"Ons het Internasionale Paralimpiese Dag in Londen gevier en toe Oscar 'n demonstrasie gelewer het op 'n 60 meter lange tartan-oppervlak, het kinders van alle ouderdomme wat sy handtekening wou hê, saamgedrom en hul neuse teen die versperrings gedruk in 'n poging om hom te sien.
"Ek het skielik besef hy is iemand wat 'n massiewe impak in internasionale sport gemaak het."
Pistorius is in twee kategorieë benoem vir die Laureus Sporttoekennings vir 2011.
Die wenners word volgende week in Londen aangekondig.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24