Olimpiese atleet sterf ná skietaanval
2013-01-17 16:59
Londen – 'n Mexikaanse atleet wat 'n silwer medalje in die 20 km-stapitem by die Sydney Spele in 2000 gewen het, is Donderdag dood nadat hy twee weke gelede in die kop geskiet is by 'n kuierplek, het die BBC berig.
Noe Hernandes, wat sy linkeroog in die aanval verloor het en gedeeltelik blind is in sy regteroog, was besig om by die huis aan te sterk toe hy klaarblyklik 'n hartaanval gekry en onderweg na die hospitaal dood is.
Die 34-jarige atleet het op 30 Desember in 'n kroeg in Sentraal-Mexiko gekuier toe 'n rusie by 'n nabygeleë tafel uitgebreek het.
'n Skietery het ontstaan en twee mense is doodgeskiet. Hernandez en 'n ander man is in die voorval gewond.
Mexikaanse owerhede is op soek na drie mans in verband met die skietery, wat in die dorp Los Reyes La Paz plaasgevind het.
– Volg
Nuus24 op Twitter.
–
BBC