Nuwe voorloper in Tour de France
2011-07-23 11:31
Pretoria. – Die 24-jarige Pierre Rolland (Europcar) het Vrydag eindelik die Franse se wendroogte in vanjaar se Tour de France gebreek toe hy die 19de skof gewen het.
Die laaste Franse fietsjaer wat ’n skof teen die hange van die legendariese Alpe d’Huez-klim gewen het, was Bernard Hinault, ’n vyfmalilge Tour-wenner – in 1986.
Soos verwag, was dié laaste klim een te veel vir Thomas Voeckler (Europcar), wat die afgelope 10 dae die geeltrui gedra het. Die klim het sy tol geëis en hy het tot die algehele vierde plek teruggesak.
Andy Schleck (Leopard Trek) is die nuwe voorloper, maar hy is net 53 sekondes voor sy broer, Fränk, en 57 sekondes voor Cadel Evans (BMC).
Saterdag se individuele tydtoets (42.5 km) gaan die oomblik van waarheid wees, want dis elke jaer op sy eie teen die horlosie.
Op papier moet Evans die gunsteling wees, al is hy 57 sekondes agter. Hy is die beste tydtoetsjaer, maar Andy vaar deesdae glo goed teen die stophorlosie.
Fränk gaan tyd verloor, maar hy behoort steeds Sondag in Parys op die derde podiumtrappie te staan, want hy is meer as ’n minuut voor Voeckler.
Benewens Rolland was Alberto Contador (Saxo Bank) die dag se ander groot held. Hy moes aanval as hy ’n kans wou staan om die geeltrui syne te maak.
Hy het al teen die eerste klim, Col du Télégraphe, aangeval. Hy het al die gunstelinge, behalwe Andy, agtergelaat.
Dit het ’n grootse poging van Evans geverg om Contador en Andy voor die Alpe d’Huez in te haal, maar Contador was nie klaar nie. Hy het weer aangeval en was byna ’n minuut voor Andy toe sy bene nie meer wou nie.
Samuel Sanchez (Euskaltel-Euskadi) en Rolland het hom 3 km voor die eindpunt verbygesteek. Rolland het die skof oor 109.9 km in 3:13.25 gewen. Sanchez was 14 s later oor die eindstreep met Contador derde, 23 s stadiger.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24