Nuwe toer kan SA fietsry op wêreldkaart plaas
2010-11-24 08:31
Pretoria - Die bestuur van Fietsry Suid-Afrika (FSA) het Dinsdag bekend gemaak dat die Toer van Suid-Afrika op 19 Februarie in Pretoria sal begin en agt dae later in Stellenbosch eindig.
Pat McQuaid, voorsitter van die Internasionale Fietsry-vereniging (UCI), sê dié internasionale toer maak deel uit van die plan om van fietsry ’n ware internasionale sport te maak.
“In Europa het ons die Tour de France, in die VSA is die Toer van Kalifornië, Australië het die Tour Down Under, nou het Afrika die Toer van Suid-Afrika – en wat my opgewonde maak, is dat China aansoek gedoen het om aanstaande jaar die Toer van Beijing aan te bied.
“So dié droom om ’n groot internasionale toer op elke vasteland aan te bied, is amper ’n werklikheid,” het McQuaid gesê.
Barry Mocke, uitvoerende hoof van FSA, sê net 20 spanne sal toegelaat word om deel te neem, waarvan net vyf plaaslike spanne sal wees.
Suid-Afrika se MTN en Medscheme het uitnodigings aanvaar om aan die toer deel te neem. Pegasus Sport (Australië), Verandas Willems Accent (België), Rapha Condor Sharp (Brittanje), Burgos Monumental (Spanje) en Rusland is die internasionale spanne wat gaan saamtrap.
Volgens Mocke het nog 14 internasionale spanne aansoek gedoen om deel te neem. Phil Liggett, wat as die stem van internasionale fietsry bekend staan, sal die TV-kommentaar behartig.
* Die toer se skofte is:
1ste skof: 19 Februarie: Menlyn (Pretoria) verby die Uniegebou na Fourways (Johannesburg) – 167 km
2de skof: 20 Februarie: Roodepoort deur Soweto terug na Sandton – 156 km
Rusdag: 21 Februarie.
3de skof: 22 Februarie: Nelson Mandela Baai-sportstadion in Port Elizabeth verby Addo-olifantpark terug na Port Elizabeth – 173 km
4de skof: 23 Februarie: Bloukrans-brug tot in George – 153 km
5de skof: 24 Februarie: Oudtshoorn tot in Swellendam – 210 km
6de skof: 25 Februarie: Hermanus na Stellenbosch – 180 km
7de skof: 26 Februarie: In en om Stellenbosch – 105 km
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24