Novak Djokovic kóók
2012-01-22 08:00
Melbourne – Novak Djokovic het met ’n groot gejuig tot die vierde ronde van die Australiese Ope deurgedring toe hy Saterdag net twee potte teen die hulpelose Nicolas Mahut van Frankryk afgestaan het.
Die verdedigende kampioen en eerste gekeurde het net 74 minute nodig gehad om Mahut met 6-0, 6-1, 6-1 te verneder. Die Serwiër jaag ’n vierde titel in vyf Grand Slam-toernooie, ná hy verlede jaar die Australiese Ope, Wimbledon en die Amerikaanse Ope gewen het. Hy het nog nie ’n stel in vanjaar se toernooi verloor nie, en die vierde ronde Saterdag vir die sesde jaar in ’n ry gehaal.
Mahut het Saterdag sy dertigste verjaardag gevier, maar sy dag is duidelik ontsier deur ’n knaende pyn in sy linkerknie. Boonop was Djokovic nie van plan om hom enige presente te gee nie.
Hy het die Fransman se ongemak uitgebuit deur agt keer op sy afslaan deur te breek en net agt ongedwonge foute in 20 potte te maak.
“Alle krediet aan Nicolas. Daar was verbande om sy knie en hy het duidelik gesukkel om te beweeg, maar hy het geweier om uit te tree. Ek het nogal jammer vir hom gevoel,” het Djokovic gesê.
Die Brit Andy Murray, wat in verlede jaar se eindstryd teen Djokovic verloor het, is ook deur na die vierde ronde ná hy nóg ’n Fransman, Michael Llodra maklik uit sy pad gevee het.
Hy was deurgaans in beheer van die wedstryd, wat hy met 6-4, 6-2, 6-0 gewen het, en het ’n indrukwekkende 48 wenhoue geslaan.
Jo-Wilfried Tsonga, die man wat in die eindstryd van 2008 teen Djokovic verloor het, was ook Saterdg haastig om deur die derde ronde te kom, en het die Portugees Frederico Gil met 6-2, 6-2, 6-2 uitgeskakel.
Tsonga het in die afgelope jaar tot die halfeindrondes van Wimbledon én die Amerikaanse Ope deurgedring.
Hy het nog nie die seisoen verloor nie, en in Doha die agtste ATP-titel van sy loopbaan gewen.
In ander aksie Saterdag het die Spanjaard David Ferrer met 7-5, 6-2, 6-1 teen Argentinië se Juan Ignacio Chela gewen.
Die Fransman Gael Monfils (veertiende gekeur) het in vyf stelle teen Mikhail Kukushkin van Kazakstan verloor. – AFP
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
– Sport24