Nóg 'n rugbyheld trap in Cape Epic
2010-02-26 12:22
Kaapstad – Die voormalige Springbok-vleuel Chester Williams het aangekondig dat hy aan die Absa Cape Epic-fietstoer, ter onderteuning van die JAG-stigting, gaan deelneem.
Williams sal saam met Ernst Viljoen, die bestuurder van die Absa-fietsryspan, in dié uithouwedren van agt dae trap.
Die oud-Bokke Joel Stransky en Breyton Paulse gaan ook die speke in Maart laat sing en is deel van die groep Suid-Afrikaanse sportsterre wat die JAG-stigting as deel van 'n liefdadigheidspan sal ondersteun.
Williams het op 23-jarige ouderdom in 1993 sy debuut as vleuel vir die Springbokke gemaak en 14 drieë in 27 toetse gedruk.
“Ek het Jonah Lomu en die All Blacks in 1995 oorleef en met Ernst se geduld en kennis is ek seker ons sal anderkant uitkom,” het Williams gesê toe hy uitgevra is oor sy voorbereiding vir dié uithouwedren.
Williams en Viljoen het gesê hul grootste uitdaging sal wees om die eindpunt op die laaste dag van die Cape Epic saam oor te steek.
- Sport24