Nóg 'n jaer onttrek aan Tour
2011-07-12 13:07
Kaapstad – Die Amerikaanse RadioShack-span het Dinsdag aangekondig dat Yaroslav Popovych weens erge koors nie verder aan die Tour de France sal deelneem nie.
Die Oekraïnse jaer sluit hom by sy spanmaats Chris Horner en Janez Brajkovic aan wat ook weens beserings moes onttrek.
Brajkovic (sleutelbeen) and Horner (harsingskudding en 'n gebreekte neus) moes reeds in die eerste week van die Tour de France onttrek.
RadioShack het steeds hul spanleier Andreas Kloden, maar die Duitser het 'n rugbesering opgedoen tydens Sondag se negende skof.
"Aangesien Yaroslav geen verbetering tydens Maandag se rusdag getoon het nie, het die span besluit om hom te onttrek. Die voormalige Tour de France-skofwenner sal Dinsdag verdere toetse ondergaan," het die RadioShack-span in 'n verklaring gesê.
Popovych het tydens Woensdag se vyfde skof twee keer geval maar nietemin die skof voltooi.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA