Nóg ’n grote val in Ope
2011-05-28 10:38
Parys – Haar nederlaag in die derde ronde van die Franse Ope het nóg meer vuur aan die debat verleen oor of Caroline Wozniacki régtig die voorste vroue-tennisspeler ter wêreld is of nie.
Daniela Hantuchova het die eerste gekeurde Deen met 6-1, 6-3 afgeransel hier op Roland Garros. Die Slowaak was deurentyd in beheer van dié stryd en het Wozniacki geen kans gegun nie.
Die 20-jarige Wozniacki het nog net in een Grand Slam-eindstryd gespeel. Dit was in 2009 in die Amerikaanse Ope. In die vorige twee Grand Slam-toernooie het sy in die halfeindronde vasgeval. Sy wen gereeld toernooie in die WTA-reeks, maar het nog nooit gespeel soos ’n kampioen in ’n Grand Slam-toernooi nie.
Die verdedigende kampioen, Fransesca Schiavone van Italië, is veilig deur tot die vierde ronde, maar haar teenstander in verlede jaar se eindstryd se veldtog het tot ’n einde gekom.
Australië se Samantha Stosur is deur Argentinië se Gisela Dulko met 6-4, 1-6, 6-3 uitgeskakel.
Roger Federer is besig om stil-stil sy pad na die eindstryd oop te veg. Dié kampioen van 2009 het in een van sy beste vertonings vanjaar die Serwiër Janko Tipsarevic met 6-1, 6-4, 6-3 in net meer as ’n uur afgeransel.
Die fokus is tans grotendeels op die onoorwonne Novak Djokovic en die verdedigende kampioen, Rafael Nadal, maar die Switser is besig om sy praat- werk op die baan te doen.
Federer speel in sy 46ste agtereenvolgende Grand Slam-toernooi en is geloot om Djokovic in die halfeindronde te ontmoet.
– Reuters, Sapa-AFP