Nóg 'n SA'ner trap in Tour de France
2012-06-25 11:03
Parys – Die Australiese fietsryspan Orica-GreenEdge het hul span aangekondig vir vanjaar se Tour de France wat Saterdag in België begin.
Die Australiër Matt Goss is as leier van die Tour se naelritte aangewys.
Goss, 'n skofwenner in vanjaar se Giro d'Italia, het sy Tour de France-debuut verlede jaar gemaak as deel van die HTC-Highroad-span wat Mark Cavendish gehelp het om die groentrui te wen.
Nou sal hy deur sy landgenote Baden Cooke en Brett Lancaster en die Suid-Afrikaner Daryl Impey bygestaan word.
Orica-GreenEdge, die eerste Australiese span om aan die Tour deel te neem, sal op skofwenne in die naelritte sowel as die bergagtige skofte fokus.
Daar is hoë verwagtinge van Simon Gerrans, wenner van die Milan-SanRemo-fietsren in Maart, asook Michael Albasini (Switserland) en Pieter Weening (Nederland).
Die veteraan Stuart O'Grady wat sy eerste Tour de France in 1997 gejaag het en 38 is, is ook opgeroep.
Die ervare O'Grady het in die verlede nege dae in die geeltrui gejaag en is as die span se "padkaptein" deur die sportdirekteur Matt White aangewys.
Orica-GreenEdge-span:
Michael Albasini (Switserland), Baden Cooke (AUS), Simon Gerrans (AUS), Matt Goss (AUS), Daryl Impey (RSA), Brett Lancaster (AUS), Sebastian Langeveld (NED), Stuart O'Grady (AUS), Pieter Weening (NED)
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- AFP