Nóg 'n Armstrong-spanmaat bieg oor opkikkers
2012-10-23 15:15
Oslo – Nóg 'n voormalige spanmaat van Lance Armstrong het erken dat hy verbode middels tydens sy fietsryloopbaan gebruik het.
Die Noorse jaer Steffen Kjaergaard het Dinsdag gesê hy het eritropoiëtien (EPO) en kortisoon gebruik.
"Ek het vir 'n lang tyd gedink dat dit die beste vir fietsry sal wees as ek hierdie geheim saam met my na die graf neem, maar die afgelope weke het my anders daaroor laat dink," het Kjaergaard gesê.
Die 39-jarige Kjaergaard het saam met Armstrong vir die U.S Postal Service-span gejaag toe die Amerikaner die Tour de France in 2000 en 2001 gewen het.
Die Noorweër beweer dat hy nie bewus was dat enige van sy spanmaats opkikkers gebruik het nie, "maar ek het aanvaar dat daar ander sou wees."
Armstrong is Maandag deur die Internasionale fietsryvereniging van sy sewe Tour de France-titels gestroop nadat die Amerikaanse agentskap teen verbode middels (Usada) 'n verslag gepubliseer het met bewyse dat sy Tour-spanne deel was van 'n opkikkerprogram.
Kjaergaard het verskeie Noorse kampioenskappe gewen, maar geen groot fietsrenne op internasionale vlak nie.
Hy is 'n sportdirekteur van sy land se fietsryvereniging en kan straks sy pos kwyt wees weens dié onthulling.
"Dit is 'n hartseer dag vir Noorse fietsry, maar ons wou dit uitkry in die lig," het Harald Tiedemann Hansen, die president van Noorweë se agentskap teen verbode middels, gesê.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AP