Nege veg vir Chuene-pos
2011-07-24 10:00
Johannesburg - Ek moes die afgelope week soos ’n dief in die nag in die wandelgange van Atletiek Suid-Afrika (ASA) rondsluip om te probeer vasstel wie Leonard Chuene eerskomende Saterdag as amptelike ASA-president gaan opvolg.
Die media word in die duister gehou oor die ASA se spesiale jaarvergadering by die OR Tambo internasionale lughawe, waar ’n president en vise-president verkies sal word, en die sakelys van Saterdag se belangrike vergadering was teen gister nog nie aan die media gestuur nie.
Die pos as grootbaas van SA atletiek is vakant sedert Chuene se skorsing. Terwyl die doen en late van Chuene deur die SA Olimpiese beheerliggaam, Saskok, ondersoek is – én hy uiteindelik geskors is – het James Evans van die WP as ASA-president waargeneem. Hy is deur die nuwe ASA-raad in dié tydelike posisie verkies, terwyl hy ook voorsitter van die baan- en veldkomitee is.
Tot onlangs is bespiegel dat ses persone, insluitend Evans, vir die nuwe ASA-presidentpos benoem is.
Dit het sedertdien uitgelek dat ’n yslike nege persone eerskomende Saterdag om dié pos gaan baklei ... iets wat vir
enige waarnemer dui op grootskaalse verdeeldheid in die ASA-geledere.
Die nege benoemdes is volgens ons inligting Evans, dr. Harold Adams, grootbaas van Boland-atletiek, Aleck Skosana, grootbaas van KwaZulu-Natalse (KZN) atletiek, James Moloi en Hendrick Ramaala van Sentraal-Gauteng, James Mokoka van Gauteng-Noord, Motlatsi Keikabile van Noordwes-Noord (Rustenburg en omgewing), William Mokatsanyane (SA Skole-atletiek) en Tshifhiwa Makhoshi van Limpopo.
Voordat daar vir die nuwe president en vise-president gestem gaan word, is daar volgens Sport24 se inligting ’n SA Skole-atletiek-mosie van wantroue in Evans op die sakelys.
Evans het dié mosie reeds as ongrondwetlik bestempel en SA Skole-atletiek met een of ander optrede gedreig. ’n Dokument in Sport24 se besit dui egter daarop dat SA Skole-atletiek by die mosie staan.
Dr. Adams is die enigste van die benoemdes wat nie net plaaslik nie, maar veral ook internasionaal hoog aangeslaan word. Sy internasionale profiel is verhoog sedert hy tot die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) se mediese komitee verkies is – én sy hantering van die berugte Caster Semenya-geval, waar hy in die openbare oog ’n lae en diplomatiese profiel gehandhaaf het.
Dis bekend dat hy by Chuene aanbeveel het om Caster nié aan die Berlyn-wêreldkampioenskappe in 2009 te laat deelneem voordat haar unieke geval nie deur die IAAF ondersoek is nie.
Ramaala word in atlete-kringe hoog aangeslaan (hy was lank die land se top-marathon-atleet).
Skosana se “besonderse hantering van ’n moeilike provinsie (KZN), met sy diverse onderstrominge,” maak hóm ’n sterk kandidaat, terwyl die skolebaas Mokatsanyane reeds ’n lang pad in atletiek stap en veral sy hantering van skolesake aan hóm ’n hoë profiel gee.
- Sport24
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter