Natalie du Toit trap in 94.7-fietsren
2012-11-15 15:30
Johannesburg – Suid-Afrika se Paralimpiese swemkampioen Natalie du Toit sal Sondag aan die Momentum 94.7-uitdaagfietsren in Johannesburg deelneem ter ondersteuning van 'n dwelmvrye sport.
Du Toit het Donderdag vir die eerste keer op 'n fiets geklim sedert sy haar been in 2001 in 'n motorfiets-ongeluk verloor het.
Sy sal 'n lid van die Suid-Afrikaanse instituut vir verbode middels (SAIDS) se Play Fair-span wees.
Khalid Galant, SAIDS se uitvoerende hoof, het gesê die Paralimpiese kampioen sal met 'n kunsbeen aan die fietsren deelneem.
"Sy is van plan om die hele afstand saam met die span af te lê om die boodskap van 'n dwelmvrye sport te bevorder," het Galant gesê.
Die Bafana-afrigter, Gordon Igesund, voormalige SA-sokkerspeler Mark Fish, die vryduik-kampioen Hanli Prinsloo, motorsport-kampioen Gugu Zulu en Gauteng se LUR vir paaie en vervoer, Ismail Vadi, sal saam met Du Toit in SAIDS se Play Fair-span trap.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA