Natalie du Toit kry silwer in laaste resies
2012-09-07 18:45
Kaapstad – Die Suid-Afrikaanse swemster Natalie Du Toit het Vrydagaand in 'n tyd van 30.73 sekondes die silwermedalje gewen in die 100-vryslag (S9-kategorie) – die laaste resies van haar loopbaan.
Ellie Cole van Australië het goud gewen en Sarai Gascon van Spanje het met die bronsmedalje weggestap.
Du Toit het Donderdagaand goud gewen in 'n tyd van 2:34.22 in die 200- individuele wisselslag (klas SM9). Sy het ook Dinsdagaand goud in die 400-vryslag-finaal in 'n tyd van 4:30.18 gewen en was bykans 10 sekondes vinniger as die silwermedalje-wenner, Stephanie Milward van Brittanje.
Sy het verlede Donderdag Suid-Afrika se eerste gouemedalje in die finaal van die 100-vlinderslag gewen.
Du Toit, wat die huidige wêreldrekordhouer in die 100-vryslag is nadat sy 'n tyd van 1:01.08 in 2008 in Manchester opgestel het, het vroeër gesê sy sien uit na haar laaste resies, berig Sapa.
"Ek is opgewonde omdat dit 'n lang tien dae was vir my. Ek is ook hartseer, maar die volgende maande sal ek besig wees met borge en mense wat my deur die jare ondersteun het."
Die swem-ster het gesê sy weet nie wat die toekoms vir haar inhou nie.
"Om deur die wêreld te reis, het regtig my oë laat oopgaan en dit gaan altyd hartseer wees om die sport te verlaat.
"Maar as ek terugkyk, gaan dit nie net daaroor om 'n generasie te inspireer nie, maar om vir mense te wys dit is moontlik. Hopelik kan mense hul lewe voluit leef, of dit nou gestremde mense, jonk, oud of watookal is.
"Elke dag kan jy iets leer en die raad wat ek altyd gevolg het is dat 'die dag wat jy ophou leer, is die dag wat jy sal doodgaan'," het sy gesê
– Volg Nuus24Sport op Twitter
- Nuus24