Nadal verkies om teen Federer te speel
2011-06-26 12:07
Madrid – Spanje se nommer een gekeurde tennisspeler Rafael Nadal sê hy verkies om teen sy groot teenstander, Roger Federer van Switserland, te speel.
Nadal het Federer tydens die finaal van die Franse Ope uitgeslaan.
“Dit is duidelik dat die wedstryde teen Federer altyd baie intens is. As ek ‘n finaal teen hom speel voel ek iets spesiaal en ek dink mense voel dieselfde,” het hy in ‘n onderhoud aan die Spaanse koerant ABC gesê.
“Ek het nog altyd van Federer gehou. Ek dink die goeie ding van ons albei is dat ons nog altyd geweet het hoe om te wen en hoe om te verloor. Hy is ‘n ordentlike ou.”
Die wêreld nommer een posisie word sedert 2 Februarie 2004 deur óf Nadal, 25, óf Federer, 29, beklee.
Die moontlikheid van ‘n vierde Wimbledon-finaal tussen Nadal en Federer het Saterdag ‘n stappie nader beweeg met die twee teenstanders wat beide na die laaste 16 deurgegaan het.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg
- Sapa - AFP