Nadal struikel in Kanada
2011-08-11 14:57
Montreal – Die voormalige eerste gekeurde speler Rafael Nadal het Woensdag 'n skok-nederlaag in sy openingswedstryd by die Montreal-meesterstoernooi in Kanada gely, toe Ivan Dodig van Kroasië hom in drie stelle geklop het.
Die Spanjaard sal nou nog harder moet werk om die nr. 1-titel by Novak Djokovic af te vat, nadat die Serwiër in sy openingswedstryd met die Rus Nikolay Davydenko afgereken het.
Dodig, wat die 41ste posisie op die wêreldrangleer bekleë, het 19 kishoue in sy 1-6, 7-6 (7/5), 7-6 (7/5) oorwinning oor Nadal gemoker.
"Ek dink eerlikwaar nie dat ek sleg gespeel het nie...maar ek kan nie sê dat ek goed was nie," het Nadal, wat las van 'n sinusinfeksie het, na afloop van die wedstryd gesê.
"Hy (Dodig) het baie goed gespeel, en was baie, baie aggresief," het die Spanjaard bygevoeg.
Djokovic wat na die derde ronde deurgaan met 'n 7-5, 6-1 oorwinning oor Davydenko, het nou 49 van die 50 wedstryde wat hy die seisoen gespeel het gewen.
Die derde gekeurde Roger Federer van Switserland het die Kanadees Vasek Pospisil met 7-5, 6-3 geklop vir 'n plek in die volgende ronde.
In die vroue-toernooi is die eerste gekeurde Caroline Wozniacki van Denemarke deur die Italianer Roberta Vinci uitgeskakel.
Vinci het met 6-4, 7-5 in winderige toestande geseëvier.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24