Nadal nie bang vir pyn
2010-06-29 15:34
Londen - Die voormalige Wimbledon-kampioen Rafael Nadal het gesê pyn sal hom nie keer om vanjaar weer die wentrofee omhoog te hou nie.
Nadal sukkel sedert hy verlede week by die All England klub aangekom het met 'n kniebesering en moet pynstillers gebruik.
Die Franse Ope-kampioen dra las van sy knieë sedert tendonitis hom forseer het om verlede jaar uit Wimbledon te ontrek.
Nadal se volgende wedstryd is 'n kwarteindronde-ontmoeting teen die Sweed Robert Soderling.
Dié kragmeting beloof om vuurwarm te wees. Soderling het die Spanjaard se vreemde gewoontes op Wimbledon 'n paar jaar gelede na-aap en Nadal het dit duidelik gemaak dat hy nie ingenome was met Soderling se grappies nie.
Kliek hier om te kyk na die video van Soderling se na-apery.
"Ek het 'n bietjie van 'n probleem gehad met Soderling 'n paar jaar gelede, maar daarna het ons nie weer vasgesit nie," het Nadal gesê.
Alhoewel hy die gunsteling is om die kwarteindstryd te wen, na 'n oorwinning oor die Sweed in vanjaar se Franse Ope-eindstryd, het Soderling verlede jaar bewys dat dit wel moontlik is om Nadal te klop.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24