Nadal kry wéér slegte nuus oor knie
2012-09-03 14:30
New York – Die voormalige nr.1-tennisspeler Rafael Nadal het 'n ligament, wat aan sy knieskyf geheg is, geskeur en sal vir nog twee maande buite aksie wees, het die AP-nuusagentskap Maandag berig.
"Ek moet herstel en sal terug wees sodra die pyn verdwyn," het Nadal op sy amptelike webtuiste gesê.
Die elfmalige Grand Slam-kampioen se laaste verskyning op 'n tennisbaan was in Junie tydens die tweede ronde van die Wimbledon-toernooi in Londen.
"Ek het die afgelope weke uitgemis op die Olimpiese Spele sowel as die Amerikaanse Ope, twee van die mees belangrike toernooie van die jaar waarin ek bittergraag wou speel," het hy gesê.
"Ek wil baie graag weer deelneem en die tennistoer geniet, maar daar lê nog baie jare voor my en my knie het rus nodig."
Dokters het aanvanklik aan die Spanjaard gesê dat hy tendonitis (inflammasie van 'n tendon) in sy linkerknie het en 15 dae moet rus.
Nadal sê in sy verklaring dat sedert die skeur by hom gediagnoseer is, ontvang hy behandeling wat medikasie, fisioterapie en 'n rehabilitasie-program insluit.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AP