Nadal kap terug
2011-11-22 07:05
Londen. – Die Spaanse tennisspeler Rafael Nadal meen Yannick Noah moet uit die media verban word nadat dié voormalige Franse ster Spaanse spelers daarvan beskuldig het dat hulle op groot skaal verbode middels gebruik.
Nadal het geen doekies omgedraai nie toe hy Sondag hier by die ATP-Wêreldtoernooi uitgevra is oor Noah se aantygings Saterdag in die Franse dagblad Le Monde.
Daarin vertel Noah dat Franse tennisspelers nie langer met hul Spaanse teenstanders kan meeding nie omdat hulle nie oor towerdrankies beskik nie.
“Daardie ou behoort nooit weer iets in ’n koerant te skryf nie.
“Dit wat hy kwytgeraak het, is totaal en al onnosel,” het Nadal gesê.
Die Spanjaard het bygevoeg dat Noah se uitlatings onvanpas is omdat spelers dwarsdeur die seisoen aan dwelmtoetse onderwerp word. Hy het gesê Noah se gedagtegang is soos dié “van ’n kind”.
Nadal se landgenoot David Ferrer, wat ook in die Wêreldtoernooi in aksie is, asook die bekende sokkerafrigter Pep Guardiola en die Franse minister van sport, David Douillet, het almal Noah se aantygings verwerp.
Volgens Noah, wat in 1983 as die Franse Ope-kampioen gekroon is, is Spaanse spelers in die algemeen liggaamlik baie beter as hul Franse eweknieë gebou.
Die Fransman glo daar moet beslis verbode middels betrokke wees, hoewel hy geen bewyse verskaf het nie.
“Hoe kan een land sport só oorheers
“Het hulle spesiale tegnieke en oefenmetodes ontdek waarvan niemand anders weet nie ” wou Noah weet.
Die Fransman het nou ook die plaaslike regering gevra om meer buigsaam te wees wat die reëls rondom verbode middels betref.
Nadal, ’n tienmalige Grand Slam-kampioen, het gesê Noah se aanmerkings reflekteer op dié voormalige tennisster se geboorteland, eerder as Spanje.
“Dit skaad ’n land se beeld as iemand soos hy, iemand belangrik, sulke uitlatings maak,” het Nadal gesê.
Die Spanjaard het Maandag ’n maagaandoening te bowe gekom in sy sege in Groep B oor die Amerikaner Mardy Fish.
Nadal het in die derde stel probleme begin ondervind, maar vasgebyt en die Yank uiteindelik met 6-2, 3-6, 7-6 (7/3) geklop in ’n kragmeting wat drie uur geduur het.
“Ek voel nou nie te waffers nie.
“Ek moet terug hotel toe sodat ek ’n bietjie kan rus.
“Ek het omtrent ’n uur lank baie ongemak verduur,” het die Spanjaard ná die kragmeting gesê.
Die tweede gekeurde Nadal sal vandag behoorlik beproef word wanneer hy teen Roger Federer van Switserland te staan kom. Federer het gister in drie stelle met die Fransman Jo-Wilfried Tsonga afgereken. Die telling was 6-2, 2-6, 6-4.
Nadal is die eerste keer in ses weke weer op die tennisbaan in aksie nadat hy verlede maand in Sjanghai bra middelmatig vertoon het.
Hy is reeds in die derde ronde uit daardie toernooi geboender.
- Intussen het die Australiese tennislegende Rod Laver voorspel dat Federer se titeldroogte binnekort tot ’n einde sal kom.
Federer het tot vierde op die ATP se wêreldranglys uitgesak sedert hy verlede jaar in die Australiese Ope laas roem gesmaak het.
“Sy afslane is baie beter en sy netspel het ook baie verbeter.
“En sy valhou naby die net is ook doeltreffend,” het Laver Maandag in Brisbane gesê, waar hy die onthulling van die Brisbane International se nuwe Roy Emerson-trofee bygewoon het.
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg