Nadal-besering nie ernstig
2011-06-28 14:37
Londen – Die verdedigende kampioen Rafael Nadal het Dinsdag gesê hy is fiks om teen die Amerikaner Mardy Fish in die Wimbledon-kwarteindstryd te speel nadat x-strale van sy voet gewys het dat hy geen ernstige besering opgedoen het nie.
Die Spanjaard het die besering Maandag in die eerste stel van sy kragmeting teen Juan Martin del Potro van Argentinië opgedoen en dadelik na die wedstryd gesê hy twyfel oor sy verdere deelname aan die toernooi.
Hy het die Argentyn eindelik in 'n taai stryd met 7-6 (8/6), 3-6, 7-6 (7/4), 6-4 geklop.
Maar die 25-jarige het Dinsdag op sy Facebook-blad gesê hy is reg om Fish Woensdag die stryd aan te sê.
"Gister (Maandag) na die wedstryd het ek vir x-strale na 'n hospitaal in Londen gegaan," het hy gesê.
"Tydens my wedstryd het ek gedink daar is groot fout, maar soos die kragmeting gevorder het, het die pyn meer verdraagsaam geword. En gelukkig wys die toetse geen ernstige besering nie. Vandag (Dinsdag) gaan ek om 16:30 oefen. Baie dankie vir al die ondersteuning."
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.