Nadal, Federer slaan kishou vir vloedslagoffers
2011-01-13 12:58
Sydney - Die wêreld se voorste tennisspelers gaan aan 'n vertoonwedstryd op die vooraand van die Australiese Ope deelneem om geld vir dié land se vloedslagoffers in te samel.
Roger Federer, Rafael Nadal, Kim Clijsters, Lleyton Hewitt, Novak Djokovic en Pat Rafter is van die spelers wat in aksie sal wees, Sondag in Melbourne.
Hewitt, Australië se tweemalige Grand Slam-kampioen, het gesê dit het tyd geword dat die tennisgemeenskap hul bydrae tot hulpverlening maak.
"As 'n Australiër is dit vir my onmoontlik om nie deur hierdie aaklike gebeure geraak te word nie. Dit is 'n grootskaalse ramp," het Hewitt gesê.
Die Australiërs, Pat Rafter en Sam Stosur, het die Rally for Relief-vertoonwedstryd amptelik by die onlangse Sydney-toernooi aangekondig.
Stosur het reeds A$100 (R680) bewillig vir elke kishou wat sy vanjaar by enige Australiese toernooi slaan.
Die voormalige Australiese krieketspeler, Shane Warne, beplan ook 'n twintig20-wedstryd om geld vir die vloedramp in te samel.
Warne het op sy Twitter-profiel aangekondig dat hy 'n wedstryd tussen bekendes en oud-spelers,wat deur die voormalige Engeland-kaptein Michael Vaughan gelei sal word, by die Melbourne krieketgronde beplan.
Engeland se krieketspan het ook 'n deel van hul wedstrydfooi vir Woensdag se t20-wedstryd teen Australië, vir die ramp bewillig.
Die sewemalige Tour de France-wenner Lance Armstrong, wat tans in Australië is vir die Tour Down Under-fietstoer, het U$50 000 (sowat R350 000) vir hulpverlening geskenk.