Nadal, Federer mik nóg hoër op Wimbledon
2011-06-17 09:04
Londen. – Die kampioen, Rafael Nadal, beplan om Roger Federer se droom van ’n sewende Wimbledonse kroon te beëindig en ook sy neus voor te kry in die wedloop om as die beste speler van alle tye beskou te word.
Met sy sesde Franse Ope-titel twee weke gelede het Nadal sy tiende Grand Slam-titel verower en is hy nou ses agter die Switserse meester.
Nadal jag nou sy derde Wimbledonse titel en as hy dit regkry, kan dit ’n groot terugslag wees vir Federer in sy strewe om Pete Sampras se rekord van sewe titels hier te ewenaar.
Tyd is ook aan Nadal se kant. Hy is byna vyf jaar jonger as die 29-jarige Federer, wat maar al te goed weet Sampras se sewende en laaste Wimbledonse titel in 2000 het gekom twee maande voordat hy dieselfde ouderdom bereik het.
Nadal, die Wimbledon-kampioen in 2008 en 2010 en naaswenner in 2006 en 2007, is egter nog nie bereid om sy groot teenstander oor die jare heen, teen wie hy al 25 keer gespeel het, af te skryf nie.
“Wanneer jy oor al hierdie statistieke praat en vergelykings tref, interesseer dit my nie,” het Nadal vroeër gesê.
“Ek is baie gelukkig met wat ek het en wie ek is.
“Ek is nie die beste speler van alle tye nie. Ek is wel een van die bestes en dit is goed genoeg vir my.”
Federer, wat nog nie weer ’n Grand Slam-titel gewen het sedert verlede jaar se Australiese Ope nie, is verlede jaar hier op Wimbledon in die kwarteindronde deur die Tsjeg Tomas Berdych verras.
Wimbledon is so te sê sy tweede tuiste.
“Dit is hier waar alles vir my begin het in 2003. Eintlik al in 2001, toe ek Pete Sampras geklop het. Dit is hoekom ek altyd daarvan hou om terug te kom hierheen.
“Dit is altyd vir my ’n prioriteit om Wimbledon te wen.
“Vir my is dit die hoofdoel van elke jaar,” erken Federer.
Andre Agassi, die kampioen hier in 1992, glo Novak Djokovic, wat nog net een wedstryd vanjaar verloor het, kan vanjaar se kampioen wees, al het hy nog nooit die eindstryd gehaal nie.
Andy Murray, wat poog om die eerste Brit sedert Fred Perry 75 jaar gelede te word wat die Wimbledon-kroon dra, het die afgelope twee jaar die halfeindronde gehaal.
En nadat hy Maandag die Queen’s-toernooi gewen het, is hy een van die gunstelinge.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24
- Sapa - AFP