Nadal, Federer hervat stryd in Miami
2011-04-01 10:31
Miami - Twee van die groot name in wêreldtennis, Rafael Nadal en Roger Federer, gaan mekaar vir die eerste keer in ses jaar op Amerikaanse bodem die stryd aansê.
Federer en Nadal, wat saam 110 enkelspel-titels op hul kerfstok het, ontmoet Vrydag in die halfeindstryd van die Miami-meesterstoernooi.
Die laaste keer wat die twee mekaar in Amerika gepak het, was in 2005 in die eindstryd van die Miami-kampioenskappe waar Federer van agter gekom het om Nadal eindelik met 2-6, 6-7 (4/7), 7-6 (7/5), 6-3, 6-1 te klop.
"Vir my is dit baie spesiaal wanneer ons teen mekaar speel. Ons het eintlik nog nie baie in 'n halfeindronde ontmoet nie," het Nadal gesê.
Dié twee tennissterre het sedert hul laaste ontmoeting in Miami, 20 keer teen mekaar gespeel.
Nadal het 13 van dié ontmoetings gewen waarvan slegs drie in die halfeindronde van 'n toernooi was.
Die agste gekeurde Victoria Azarenka van Wit-Rusland sal Saterdag teen die voormalige nr.1 Maria Sharapova in die vroue-eindstryd van die Miami-meesterstoernooi te staan kom.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24