Mutola glo Semenya se nuwe mentor
2011-10-24 13:14
Johannesburg – Die voormalige Wêreld- en Olimpiese 800 m-kampioen Maria Mutola van Mosambiek is glo Caster Semenya se nuwe afrigter.
Semenya het verlede week bande verbreek met Michael Seme, die afrigter wat haar talent vier jaar gelede raakgesien het.
Seme het by navraag gesê hy is nie bewus dat Semenya 'n nuwe mentor gekry het nie.
Voor September se Wêreldbyeenkoms in Suid-Korea, waar sy 'n silwer medalje gewen het, het die verhouding tussen Semenya en Seme skielik begin versuur.
Seme het onder andere gekla dat Semenya "oorgewig" is omdat sy nie gereeld oefen nie.
Semenya was nie beskikbaar om kommentaar te lewer nie, maar Mutola wat vir Mamelodi Sundowns se vrouesokkerspan speel, het gesê, "Caster en ek is besig om iets uit te werk. Ons sal binnekort 'n aankondiging maak."
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24