Moeilike Britse Ope wag
2010-07-15 08:31
Johannesburg. - In die Dunvegan-kroeg in St. Andrews – “net ’n 9-yster van die Ou Baan,” sê die Skotte graag – hang ’n foto van Tiger Woods nadat hy die Britse Ope op dié baan in 2000 met ’n telling van 19 houe minder as baansyfer gewen het.
Onder dit, langs sy vier rondte-tellings, is ’n nota opgeplak: No wind, staan daar, as vermaning vir diegene wat dit sien en vermoed dat die Ou Baan een is wat maklik aan die keel gegryp kan word.
“Sonder wind voel jy reg om ’n 65 te speel,” het Woods self eenmaal opgemerk. “Maar as dit eers begin waai, kan die voorloper iemand wees wat ’n 80 aangeteken het. Dis ongelooflik wat die wind hier kan doen.”
Die Britse Ope keer vandag terug na St. Andrews, die “tuiste van gholf” en die moeilikste Links-toets ter wêreld.
Dit is die 150ste weergawe van die wêreld se oudste Ope-toernooi en dit is heel gepas dat die weergode ook opgedaag het vir die skouspel.
Net jammer hulle is skynbaar in ’n slegte bui.
Die wind, reën en koue het almal in St. Andrews se lewens reeds gister begin versuur en volgens die weermanne sal dit nie voor volgende week verbeter nie.
Die verwagting is dat die wind net vandag nie sal waai nie.
Spelers moet vandeesweek op hul allerbeste wees, maar eindelik kan dit steeds soos ’n lotery wees.
Afslaantye kan alles bepaal, want, soos die Skotte graag sê: as dit nie reën nie, sal dit binnekort. En as dit reën, kan die son enige oomblik weer sy kop uitsteek.
Met dit in gedagte is dit moeilik om te voorspel wie Sondag met die Claret Jug sal wegstap.
Die baan is een van Woods se gunstelinge nadat hy in 2000 en 2005 met onderskeidelik agt en vyf houe gewen het. Hy was in vanjaar se eerste twee Grand Slam-toernooie van stryk af, maar het steeds vierde geëindig.
Suid-Afrika se hoop is op Ernie Els en Retief Goosen gevestig wat albei goeie rekords in die Ope het. Charl Schwartzel het ook ’n buitekans.
Hou ook die Engelsman Justin Rose, op huidige spelpeil die wêreld se beste met twee oorwinnings in die laaste drie weke, en die Amerikaanse Ope-kampioen Graeme McDowell dop. McDowell is een van die beste Links-spelers ter wêreld.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24