Moeë Giniel wil nou net vakansie hou
2011-01-18 08:15
Kaapstad - Hy het vir eers genoeg gehad van die binnekant van ’n renmotor en gaan nou vakansie hou.
Só het die Stellenbosse tydrenjaer Giniel de Villiers gesê toe sy trotse ouers, Smittie en Anna-Marie de Villiers, hom Maandag op die Kaapstadse Internasionale Lughawe terugverwelkom het as die naaswenner in vanjaar se Dakar-tydren in Argentinië en Chili.
Dié uitmergelende tydren het Saterdag in die Argentynse hoofstad Buenos Aires ten einde geloop, met De Villiers se spanmaat, Nasser Al-Attiyah van Katar, wat as die wenner gekroon is.
Nóg ’n spanmaat, Carlos Sainz van Spanje, 2010 se kampioen, was derde. Dié twee het met splinternuwe Volkswagen Touaregs gejaag, terwyl De Villiers – 2009 se kampioen – ’n ouer motor gehad het. Boonop moes die Bolander in vroeë sneltrajekte ook sowat 150 kg se onderdele met hom saamkarwei.
Met Sainz, ’n voormalige tydren-wêreldkampioen, en Al-Attiyah wat vir ’n groot deel van die tydren om die eerste plek baklei het, het De Villiers die driemalige kampioen Stephane Peterhansel van Frankryk op ’n veilige afstand van sy spanmaats gehou.
Dit was die derde keer die afgelope vyf Dakar-tydrenne dat De Villiers op die podium eindig. In 2006 het hy ook ’n tweede plek behaal.
Terwyl hy gister agter sy volgelaaide bagasietrollie gestaan het, het De Villiers gesê hy was daagliks 12 tot 13 uur agter sy motor se stuur.
“Dit sal lekker wees om ’n bietjie in die buitelug deur te bring,” het De Villiers, ’n ywerige vlieërplank- en bergfietsryer, gesê. Hy weet nog nie waar hy gaan vakansie hou nie.
Dit eis sy tol om vir twee weke lank deur bosse, reusagtige duine en modder te jaag.
“Dis maar my job. Jy doen dit later soos ’n masjien,” het hy verduidelik.
“Maar jy raak ’n bietjie moeër as ’n masjien,” het hy met ’n glimlag bygevoeg.
Hy het sy Suid-Afrikaanse ondersteuners bedank. Baie mense wat nie gewoonlik motorsport volg nie, hou die Dakar dop omdat dit so ’n groot avontuur is, het hy gesê.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24