Minnaar én Stander kraai koning op hul bergfietse
2010-02-09 01:30
Pretoria – Burry Stander (Specialized-Mr Price) en Greg Minnaar (Santa Cruz Syndicate) het op die eerste byeenkomste van die nasionale bergfietsreeks gewys waarom hulle twee van die beste jaers in die wêreld is.
Minnaar, die derde beste jaer in bergaf-renne ter wêreld, het net anderkant Hartbeespoortdam met sy vreeslose benadering verseker hy stel die vinnigste tyd in die afren op.
Dié vertoning was goed genoeg om te verseker hy kwalifiseer vir die Wêreldbyeenkoms.
Stander, die o.23-wêreldkampioen, het Saterdag net buite Alberton die veldren vir elite-jaers gewen.
Sy wentyd vir die 28 km-ren oor ses rondtes was 1:57:59.
Stander se vertoning was byna foutloos. Sy enigste glips was toe hy in die laaste rondte teen ’n opdraande sy lyne verkeerd gelees het.
Dit het daartoe gelei dat hy ’n oomblik beheer oor sy fiets verloor en in twee bome vasgejaag het. Gelukkig het hy nie neergeploeg nie.
Philip Buys (Garmin-adidas) het tweede algeheel geëindig en ook die afdeling vir o.23-jaers in 2:03:17 gewen.
Marc Bassingthwaighte (Garmin-adidas) was algeheel derde in 2:03:45.
Die vroue-ren was ook vol drama. Binne die eerste paar kilometer het Mariska Strauss (MTN-Energade) se fiets onder haar uitgegly terwyl sy oor ’n houtbruggie gejaag het.
Sy en haar fiets het in die water beland, maar sy was blitsig terug op haar fiets.
In die tweede rondte het een van Yolandé Speedy (MTN-Energade) se trappe losgeraak. Speedy het kosbare minute ingeboet terwyl daar gespook is om die trap te vervang.
Strauss het toe vir ’n paar minute voor gejaag, maar Speedy was te sterk en het haar weer ingehaal. Daarna was daar geen keer aan Speedy nie. Sy het die ren oor vier rondtes in 1 uur 36 minute en 56 sekondes gewen.
Die Suid-Afrikaanse Hongaar Eszter Erdelyi (Jeep) was op die ou einde algeheel tweede in 1:41:12 en Strauss derde in 1:42:06.
Strauss was die eerste o.23-jaer oor die eindstreep.
– Beeld