Ministerie: "Dank Chuene af"
2009-09-20 00:36
Johannesburg – Atletiek Suid-Afrika (ASA) moet sy president, Leonard Chuene, “afdank” omdat hy gejok het oor geslagstoetse wat op die 800m wêreldkampioen Caster Semenya gedoen is, het die ministerie van sport Saterdag gesê.
“Ons versoek die ASA om nie net dissiplinêre stappe teen Mnr. Chuene te neem nie, maar om hom af te dank as die president van ASA.”
“Indien hulle dit nie doen nie loop hulle die risiko om deur ‘n leuenaar bestuur te word,” het Gert Oosthuizen, die adjunk minister van sport in ‘n verklaring gesê.
Hy het bygevoeg dat sy ministerie geskok was oor Chuene se erkenning dat hy gejok het oor die geslagstoetse wat voor die wêreldkampioenskappe in Berlyn op Semenya gedoen is.
Volgens Oosthuizen het die departement op twee afsonderlike geleenthede ‘n verslag van Chuene gevra oor wat voor, gedurende en na Berlyn gebeur het, maar het nog niks ontvang nie.
Chuene het Saterdag erken dat hy aan die Suid-Afrikaanse publiek gejok het oor die feit dat hy geweet het van geslagstoetse wat op 7 Augustus in Pretoria op Semenya gedoen is.
Chuene het gesê dat die ASA se wanuitlating oor die saak bedoel was om Semenya se privaatheid te beskerm.
“Nadat ons sy erkenning gehoor het is ons nie verras deur sy traagheid om te voldoen aan ons versoek nie. Mnr. Chuene het nie net vir ons, die ministerie, gejok nie, maar vir die hele land, en dit is onaanvaarbaar.”
“Ons is daarvan oortuig dat die ontkenning van die kennis oor die toetse die aanhoudende skending van mej. Semenya se regte en waardigheid deur buitelandse en sommige plaaslike media aangevuur het.”
Die ministerie het nie saam met Chuene gestem dat hy gejok het om Semenya te beskerm nie.
“In teendeel, ons glo dit was tot mej. Semenya se nadeel,” het Oosthuizen gesê
- Sapa