Menings wissel oor Contador
2012-02-08 08:00
Pretoria. – Die internasionale fietsry-gemeenskap is verdeeld oor Alberto Contador, ’n Tour de France-kampioen, se skuldigbevinding aan die gebruik van ’n verbode middel.
Die arbitrasiehof vir sport het Contador Maandag vir twee jaar geskors, omdat hy gedurende die 21ste skof van 2010 se Tour clenbuterol gebruik het.
Die besluit beteken dat hy nie meer die 2010-kampioen is nie. Die Giro d’Italia-titel wat hy in 2011 gewen het, gaan ook van hom weggeneem word.
Die kans is goed dat hy amper R30 miljoen wat hy aan inkomste uit fietsry verdien aan die Internasionale Fietsryvereniging (UCI) sal moet terugbetaal.
Die arbitrasiehof moet nog daaroor besluit.
Verskeie voormalige Spaanse Tour de France-kampioene meen Contador is onskuldig, terwyl Cadel Evans, verlede jaar se Tour-kampioen, meen geregtigheid het geseëvier.
Andy Schleck wat nou as die amptelike Tour-kampioen van 2010 beskou word, het gesê hy het geen rede om bly te wees nie. “Ek voel jammer vir Alberto. Ek het regtig in sy onskuld geglo,” het Schleck aan Cyclingnews.com gesê.
“Wat my betref, is dit ’n hartseerdag vir fietsry. Die enigste goeie ding is dat dié saak uiteindelik ná 566 dae afgehandel is en dat ons almal ’n slag weer net op fietsry kan fokus.”
Evans het aan Fox News gesê dat Contador se skorsing ’n bewys is dat fietsry sy stryd teen die gebruik van verbode middels wen. “Internasionale fietsry stel met sy ongenaakbare optrede teen dwelmoortreders ’n voorbeeld aan alle ander sportsoorte.”
Evans wou hom nie uitlaat of hy dink dat Contador wel ’n verbode middel gebruik het nie.
“Ek weet nie wat regtig gebeur het nie. Daarom berus ek my by die besluit wat geneem is.”
Spanje se Oscar Perreiro, wat in 2006 die Tour-kampioen geword het nadat Floyd Landis geskors is, het op Twitter behoorlik keel skoongemaak.
“Contador is die tweede Spaanse fietsryer wat geskors word sonder dat die UCI of die arbitrasiehof vir sport onteenseglik kon bewys dat hy wel skuldig is. Allesandro Valverde is die ander een.
“Ek twyfel nie dat Alberto onskuldig is nie, want ek ken hom persoonlik.”
Miguel Indurain, ’n vyfmalige Tour-kampioen, het aan Cyclingnews.com gesê hy is onkant gevang deur Contador se skuldigbevinding. “Ek het dit nie verwag nie. Dit is regtig slegte nuus vir my.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24