Meeste inskrywings nóg vir Two Oceans
2011-02-10 12:00
Kaapstad - 'n Rekordgetal hardlopers gaan vanjaar op 23 April in Nuweland, Kaapstad, vir die Two Oceans-halfmarathon aantree.
Net meer as 14 000 inskrywings is vir die 21 km-roete ontvang. Die vorige rekord was in 2009 toe 13 221 atlete ingeskryf het.
Sowat 13 501 van die hardlopers is vanaf Suid-Afrika, 249 van Afrika en 269 is van oorsee.
In vanjaar se halfmarathon sal 120 hardlopers, wat die 21 km al meer as 10 keer gehardloop het, by die beginpunt in Nuweland aantree.
Meer as die helfte van die 14 000 hardlopers durf vanjaar se Two Oceans-halfmarathon vir die eerste keer aan.
Nog 'n interessante statistiek is dat die halfmarathon reeds R90 000 vir Two Oceans se amptelike Bobs for Good-welsynsorganisasie ingesamel het. Dié geld sal 900 minderbevoorregte kinders van skoolskoene voorsien.
"Die belangstelling is ongelooflik. Ons word daagliks met oproepe van mense wat nog wil inskryf oorval," het die direkteur van die halfmarathon, Rowyn James, gesê.
Hardlopers wat nog soek na 'n inskrywing kan 'n bod maak op die Two Oceans-webtuiste.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24