Medscheme oorheers steeds SA fietsry
2010-11-22 08:12
Pretoria - Nic White het Medscheme se oorheersing van Suid-Afrikaanse fietsry Sondag in Johannesburg voorgesit toe hy die 94.7 Cycle Challenge-ren vir beroepsjaers gewen het.
Eintlik was White se sege gepas omdat hy in 1987, toe die 94.7 die eerste keer aangebied is, ook die wenner was en gister se ren sy laaste as beroepsjaer was.
Sy spanmaats, Arran Brown en Malcolm Lange, het onderskeidelik tweede en derde oor die eindstreep gejaag en daarmee verseker dat die jaers van die blou-en-witspan dubbele Suid-Afrikaanse fietsry-geskiedenis gemaak het.
Dit is die eerste keer dat drie jaers van dieselfde span die eerste drie plekke in 94.7 verower.
Medscheme is ook die eerste span wat twee jaar agtereenvolgens daarin kon slaag om die drie belangrikste eendagrenne – Argus (Kaapstad), Amashova (Pietermaritzburg na Durban) en 94.7 (Johannesburg) – te wen.
White en sy spanmaats het eintlik al die spanne “geskaakmat” die oomblik toe ’n groep van 15 jaers daarin geslaag het om in ’n breek weg te kom. Sewe van die jaers in die groep was van die Medscheme-span.
Sowat 18 km van die einde het Waylon Woolcock (Medscheme) ’n aanval van stapel gestuur.
White het geduldig gewag. Die oomblik toe Woolcock ingehaal is, het hy versnel en op sy eie voor begin jaag.
Behalwe Dennis van Niekerk (EMG) het nie een van die ander jaers werklik ’n poging aangewend om hom te probeer inhaal nie.
Dit het daartoe gelei dat hy die laaste 12 km alleen voor gejaag het.
Lange en Brown kon toe bekostig om hul energie vir die finale naelrit na die eindstreep te spaar.
White het oomblikke nadat hy oor die eindstreep gejaag het, geen geheim van sy gevoelens gemaak nie.
“Dit is vir my regtig spesiaal om my loopbaan op dié wyse af te sluit. Ek wil al my spanmaats bedank, want my sege is net soveel hulle s’n.”
Volgens White is hy nie heeltemal klaar met fietsry nie.
“Ek gaan aanstaande jaar steeds probeer om aan soveel moontlik renne deel te neem.
Maar omdat ek heeltyds gaan werk, sal ek nie meer so hard kan oefen nie.
“Eintlik hoop ek om soort van ’n ‘mentor’ vir die Suid-Afrikaanse o.23-span te wees.
Ek sal graag my kennis met hulle wil deel, want daar is geen rede waarom hulle dieselfde foute moet begaan as wat ek begaan het toe ek ’n jong jaer was nie.”
Lange het White se sege as die spreekwoordelike “kersie op die koek” bestempel.
“Ek dink dit is wonderlik dat hy sy beroepsloopbaan só kon afsluit.
Ek gaan Nic mis, want ons was van 1997 af spanmaats en hy het ’n groot rol in baie van my seges gespeel.”
Cherise Taylor (USN) het Saterdag die bergfietsren vir vroue gewen en gister die padren.
Sy is ook die Suid-Afrikaanse vroue-padkampioen.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24