Medalje wink vir Semenya
2009-08-18 06:54
Pretoria - Dit is amptelik: Suid-Afrika het weer ’n vroue-atleet wat die wêreld se bestes kan klop!
Die 18-jarige Caster Semenya het Sondagaand op die Wêreldbyeenkoms in Berlyn die vinnigste tyd in die halfeindronde-wedlope van die 800 aangeteken en haar aanspraak op ’n medalje lewendig gehou.
Wat haar oorwinning nog meer opwindend maak, is die feit dat sy Sondagaand die tweede keer in drie weke die 800 in minder as twee minute afgeblits het.
Haar wentyd Sondagaand was ’n haastige 1:58.66, wat beteken sy spog nou met die twee vinnigste tye ooit in die 800 in Suid-Afrikaanse vroue-atletiek.
Michael Seme, haar afrigter, sê dat hy Sondagoggend hard met Semenya moes praat.
“Sy het my gebel en gekla dat haar voet seer is. Ek het vir haar gesê jy kan nie nou bekostig om jouself oor pyne te bekommer nie en dat dit alles in haar kop is.
“Ek het gesê al waaroor sy haar moet bekommer, is oor hoe vinnig sy kan hardloop.”
Semenya het geluister.
Toe die afsitterspistool gisteraand klap, het Semenya dadelik begin ooplê en voor begin hardloop.
Die uitdaging aan die wêreld se bestes was vang my as julle kan.
Ironies genoeg was dit Kenia se Janeth Jepkosgei Busienei wat vir die grootste deel van die wedloop op die Suid-Afrikaner se hakke was.
Dié twee atlete het Sondag in die eerste uitdun groot nuus gemaak toe hul bene verstrengel geraak het.
Dit het daartoe gelei dat Busienei, die verdedigende kampioen, neergeploeg het.
Jennifer Meadow van Brittanje was tweede in 1:59.45 en Busienei derde in 1:59.47.
Peter van der Westhuizen het in die halfeindronde van die 1 500 sy bes gedoen om tot die eindronde deur te dring.
Hy het besef daar is net een manier waarop hy kan deurdring en dit is om van meet af aan voor te hardloop en vir die beste te hoop. Hy was dan ook tot sowat 200 m van die einde af voor, maar toe raak sy stoom op en eindig hy tiende in 3:40.00.
Die groot skok Sondagaand was dat Rusland se Elena Isinbaeva, die Olimpiese paalspringkampioen en wêreldrekordhouer, in die eindronde op geen hoogte kon slaag nie.
- Beeld