McGregor oes agtste Bergrivier-kroon in
2011-07-17 07:20
Kaapstad – Hank McGregor het Saterdag hier sy agtste Bergrivier-kroon ingeoes en in die proses ’n allemintige R70 000 in sy sak gesteek.
Die KwaZulu-Nataller het die 50ste Bergrivier-kanomarathon in ’n tyd van 16 uur, 59 minute en 25 sekondes voltooi en stof in die oë van die res van die deelnemers geskop.
McGregor het al vier skofte van die gesogte kanomarathon gewen en meer as tien minute voor Pierre-André Rabie (17:09.40) en nog verder voor Lance King (17:13.24) klaargemaak.
McGregor, wat R35 000 vir sy algehele oorwinning ontvang het, het ook elke dag die brug-pryse ter waarde van R4 000 en die prysgeld van R5 000 vir skof-seges in sy sak gesteek.
“Ek voel so bevoorreg om deel van die 50ste Berg te kon wees. Om dit te kon wen, is ’n bonus,” het ’n emosionele McGregor ná sy sege gesê.
“Ek het baie harder geoefen vir vanjaar se marathon as vorige jare en was baie ernstiger in my voorbereiding. Om een van so baie wenners en legendes te wees wat vanjaar geroei het, laat my nederig en ek voel eintlik oorweldig deur die oomblik. Hopelik sal my naam ook saam met al die ander legendes onthou word.”
Dit was McGregor se sewende agtereenvolgende sege in die Berg. Hoewel die kampioen nog nie weet wanneer hy gaan ophou nie, sê hy dit is dalk tyd om daaraan te begin dink.
Michele Eray het die vroue se wedvaart soos McGregor op oortuigende wyse gewen. Haar wentyd was 19:06.02.
Verlede jaar se kampioen, Robyn Kime, was tweede in 19:26.00 en Jen Hodson het die laaste plek op die wennerspodium ingeneem met ’n tyd van 20:01.28.
“Dit was ’n ongelooflike ervaring en ek is baie bly en tevrede met hoe alles verloop het,” het Eray oor haar eerste Berg-sege gesê.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg