Mbalula laat vaar Beyonce-idee
2012-09-04 08:41
Johannesburg – Die Amerikaanse sangeres Beyonce gaan nie by die Suid-Afrikaanse departement van sport en ontspanning se sporttoekennings optree nie, het The Star Dinsdag berig.
Die sportminister, Fikile Mbalula, het gesê die idee om 'n kunstenaar na Suid-Afrika te bring is laat vaar omdat dit die fokus van atlete, wat die erkenning verdien, sal wegneem.
"Dit is hoekom ons die Beyonce-idee laat vaar het. Dit het 'n politieke kwessie begin word, snaakse liedjies is daaroor in die [ANC] gesing, die fooi wat aan haar betaal sou word is verdraai en allerhande wilde gerugte het die ronde gedoen," het Mbalula gesê.
"Dit het my eindelik laat dink oor wat ons probeer om alles hier te bereik."
Beyonce se fooi, wat glo R17 miljoen 'n uur sou wees, sou voor die toekenningsaand deur 'n korporatiewe borg betaal word.
"Die kwessie is heeltemal uit verband geruk, so ek het die besluit gemaak om dit alles dadelik te staak. Dit was nie die moeite werd om daarmee voort te gaan nie."
Die sporttoekennings sal na verwagting in November plaasvind.
Volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA